Johannes 4

4
Jesus gee die ewige lewe vir ’n Samaritaanse vrou
1Jesus het geweet dat die Fariseërs gehoor het dat Hy gewild begin raak het en dat Hy meer mense doop as Johannes. Daarom is Hy weer van Judea af terug Galilea toe. 2(Eintlik het Jesus nie self gedoop nie. Sy volgelinge het dit namens Hom gedoen.)
3-4’n Mens kan deur Samaria na Galilea toe gaan. 5Op pad het Jesus besluit om by Sigar in Samaria te gaan rus. Sigar het naby die stuk grond gelê wat Jakob destyds aan sy seun Josef gegee het. 6Dit was juis ook die plek waar ’n put oor die fontein van Jakob gebou is. Jesus het sommer by die put gaan uitspan, moeg van die lang pad. Dit was omtrent twaalfuur die middag. 7’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep.
Jesus vra haar toe: “Gee My asseblief ’n bietjie water om te drink.”
8(Sy dissipels was toe reeds dorp toe om kos te gaan koop.)
9“Verskoon my,” sê sy, “maar waarom vra jy my water om te drink? Is jy nie ’n Joodse man en ek ’n Samaritaanse vrou nie?” (Sy het dit gevra omdat die Jode normaalweg niks met die Samaritane te doen wou hê nie.)
10“As jy geweet het wat God vir mense wil gee en besef het wie vir jou water vra, sou jy nie so ’n vraag gevra het nie. Jy sou eerder vir Hom water gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het, het Jesus gesê.”
11“Meneer, hierdie put is diep en jy het nie eens ’n emmer en tou nie. Waar dink jy gaan jy daardie vars water vandaan kry?” vra sy. 12“Jy is tog sekerlik nie beter as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons nagelaat het nie. Hy self het water uit hierdie put gedrink, soos sy kinders en diere ook.”
13“Wel, elkeen wat van hierdie put se water drink, sal na ’n rukkie weer dors word,” antwoord Jesus. 14“Wie egter van die water drink wat Ek hom sal gee, sal nooit ooit weer dors word nie. Daar sal iets in daardie persoon gebeur. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal in ’n fontein binne-in hom verander. Hierdie borrelende, lewende water sal maak dat hy vir ewig sal lewe.”
15“Meneer, gee my asseblief van daardie water,” vra sy dadelik. “Dink net, ek sal dan nooit weer dors word nie en ook nooit weer die moeite hoef te doen om hier te kom water haal nie.”
16Hy vra haar toe: “Gaan roep gou jou man en kom hier.”
17“Ek het nie ’n man nie,” sê sy.
“Dit is ’n eerlike antwoord,” sê Jesus. 18“Jy was voorheen al vyf maal getroud. Boonop is jy nie eens getroud met die man met wie jy nou saambly nie. Ja, jy het die waarheid gepraat.”
19“Meneer, jy is sowaar ’n profeet. Kom, sê my ’n bietjie, ons voorvaders het God op hierdie berg aanbid. 20Julle Jode sê weer dat Jerusalem die regte plek is om God te aanbid. Wat sê jy daarvan?” vra sy.
21“Mevrou,” sê Jesus, “dit is nie meer lank nie, dan gaan julle die Vader nie meer hier op hierdie berg of in Jerusalem aanbid nie. 22Julle Samaritane ken nie regtig die God wat julle aanbid nie. Ons Jode ken daardie God. Geen wonder nie, want God se stroom van redding borrel eers in die Jodedom op en vloei dan na almal. Die tyd is nou ryp! Opregte gelowiges sal nie meer na ’n spesiale heilige plek hoef te gaan om die Vader daar te dien nie. 23Tye verander. Hulle sal nou op enige plek met God kan praat, net solank hulle dit opreg met die hulp van die Heilige Gees doen. Die Vader self het besluit dat dit so moet wees. 24Immers, God is Gees. Daarom is dit verstaanbaar en nodig dat die Heilige Gees die gelowiges moet help om Hom opreg te dien soos Hy daarvan hou.”
25Die vrou sê toe weer: “Ek weet dat die Messias kom. Die Grieke praat mos van Hom as ‘Christus’. Nou ja, wanneer Hy kom, sal Hy vir ons van al die nuwe dinge kom vertel.”
26Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die Redder, die Messias, wat nou met jou praat.”
Die oes is ryp
27Net toe kom sy dissipels daar aan. Hulle was nogal verbaas toe hulle Jesus met die vrou sien gesels, maar het nie ’n woord gesê nie. Nie een het eens vir haar gevra: “Wat soek jy?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. 28Die vrou is toe terug dorp toe, sonder haar waterkruik. “Kom gou!” het sy die mense geroep. “Ek het ’n vreemde man raakgeloop wat my hele lewensverhaal vir my vertel het. 29Kom kyk, is Hy nie dalk die Christus nie?” 30Die mense het nie op hulle laat wag nie, maar is inderhaas uit die dorp uit na Hom toe.
31By die put het die dissipels intussen vir Hom gesê: “Rabbi, U moet iets eet.”
32Sy antwoord was: “Ek het my eie kos waarvan julle nie eens weet nie.”
33Die dissipels bespiegel toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk intussen vir Hom iets gebring om te eet?”
34Jesus help hulle toe reg: “Weet julle wat is vir My soos kos? Dít: om presies te doen wat God wat My gestuur het, wil hê Ek moet doen. Alles wat Hy wil hê Ek moet doen, wil Ek klaarmaak. Wanneer Ek dit doen, voel Ek ‘versadig’, net soos iemand wat lekker geëet het.
35“Julle sê mos partykeer: ‘Oor vier maande kan ons begin oes.’ Ek het vir julle nuus. Maak julle geestelike oë oop en kyk om julle. Kyk mooi na die ‘lande’. ‘Oestyd’ is hier. Kyk net hoe ryp staan die ‘oes’. 36Die oes word nou reeds volstoom ingesamel. Mense wat ‘oes’, kry al hulle ‘lone’. Dit gaan natuurlik nie om ’n gewone oes nie, maar om die ‘oes van mense’. Omdat hulle deel van die ‘oes’ is, sal hulle vir altyd saam met God leef. 37Julle ken mos die gesegde: ‘Die een saai en die ander een maai.’ 38Dit is ook hier waar. Julle weet wat julle in die wêreld vir My moet doen: julle moet gaan om hierdie ‘oes’ in te samel, al het julle nie self daaraan gewerk nie. Ander mense het hard daaraan gewerk. Julle moet egter die goeie resultate van wat hulle gedoen het, gaan insamel.”
39Baie Samaritane uit daardie dorp het in Jesus geglo. Die vrou het mos aan hulle vertel dat Jesus alles van haar geweet het. Dit het hulle oortuig. 40Die Samaritane is toe na Jesus toe. Hulle het by Hom aangehou om by hulle te kom oorbly. Jesus het toe twee dae daar by hulle gebly. In die twee dae het Jesus verder met hulle gesels. 41Die gevolg was dat baie meer van hulle sy vriende geword het. 42Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nou nie meer net omdat jy ons van Hom kom vertel het nie. Ons het die kans gehad om self na Hom te luister.
“Ons twyfel nie meer nie: hierdie man is waarlik die Redder wat sou kom. Hy bring nie net vir ons of die Jode redding nie, maar vir al die mense in die wêreld.”
Jesus gee vir ’n seun lewe en vir sy gesin ewige lewe
43Twee dae later is Jesus Galilea toe. 44Jesus het goed geweet en het ook vir die mense gesê dat ’n profeet nie gerespekteer word deur die mense onder wie hy grootgeword het nie. 45Toe Hy egter in Galilea aankom, is Hy met oop arms ontvang. Dit was ook maar net omdat die mense daar al die dinge gesien het wat Jesus by die feestelikhede in Jerusalem gedoen het. Hulle self was ook Jerusalem toe vir die paasfees. 46Jesus is toe Kana toe. Dit is dieselfde dorpie waar Hy die water in wyn laat verander het. Daar was ’n hoë staatsamptenaar wat in Kapernaum vir die koning gewerk het. Sy seun het intussen baie siek geword. 47Die nuus het by hom uitgekom dat Jesus terug is uit Judea. Hy is dadelik na Jesus toe en het Hom gevra om asseblief saam met hom huis toe te kom. Sy seun was besig om dood te gaan en hy wou hê Jesus moet hom gesond maak.
48Jesus sê toe: “As dit nie vir al die wonderlike dinge was wat Ek gedoen het nie, sou julle ook maar nie geglo het nie.”
49Die man hou toe egter vol: “Here, kom tog asseblief gou voordat my kind doodgaan.”
50Jesus sê toe: “Gaan maar huis toe. Jou seun lewe.”
Die man het Jesus vertrou en is terug huis toe. 51Hy was nog op pad toe sy werkers al met die goeie nuus aankom: “U seun leef!” 52Hy vra hulle toe uit oor presies wanneer sy seun beter begin word het. “Omtrent so eenuur gistermiddag het sy koors begin breek,” sê hulle. 53Toe hy mooi terugdink, besef die pa dat dit juis die tyd was toe hy en Jesus gesels het. Jesus het toe mos al vir hom gesê dat sy seun lewe. Hy, saam met almal wat in sy huis bly, het toe in Jesus geglo. 54Dit was die tweede wonderteken wat Jesus in Galilea gedoen het nadat Hy teruggekom het uit Judea.

Tans Gekies:

Johannes 4: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan