2 Samuel 5:17-25

2 Samuel 5:17-25 DB

Die Filistyne het gehoor dat Dawid koning geword het van Israel. Hulle het toe met al hulle soldate gekom om hom in die hande te kry. Maar Dawid het gehoor wat hulle plan was en hy het in die veilige plek in Jerusalem gebly. Die Filistyne het hulle kamp in die Spooklaagte opgeslaan. Dawid het toe vir die Here gevra: “Moet ek teen die Filistyne gaan veg, en sal U my help om hulle te wen?” Die Here se antwoord was: “Ja, gaan veg teen hulle. Ek sal vir seker sorg dat jy hulle wen.” Dawid het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar gewen. Hy het gesê: “Die Here het deur my vyande gebreek soos water deur ’n damwal breek.” Daarom het hy die plek Baäl-Perasim, “die Baas van die deurbrekers”, genoem. Die Filistyne het hulle afgodsbeelde net daar laat lê, en Dawid en sy manne het dit vir hulle gevat. Die Filistyne het daarna nog ’n keer probeer en weer hulle kamp in die Spooklaagte opgeslaan. Dawid het weer vir die Here gevra wat hy moet doen. Die Here het vir hom gesê: “Moenie hulle van voor af aanval nie. Gaan óm hulle en val hulle daar by die melkbosse van agter af aan. As jy ’n geluid in die boomtoppe hoor wat soos voetstappe klink, moet jy vinnig aanval, want dan is Ek, die Here, voor jou om die soldate van die Filistyne te verslaan.” Dawid het alles gedoen net soos die Here vir hom gesê het. Hy het die Filistyne gejaag van Geba af tot waar ’n mens by Geser kom.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid