MATTHÉÜS 16

16
Die suurdeeg van die Fariseërs.
(Mk. 8:11-21.)
1EN die Fariseërs en Sadduseërs het nader gekom om Hom te versoek en het Hom gevra om hulle 'n teken uit die hemel te laat sien.
2Maar Hy antwoord en sê vir hulle: In die aand sê julle: Mooi weer, want die lug is rooi.
3En in die môre: Stormweer vandag, want die lug is donkerrooi. Geveinsdes, julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei, en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?
4 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet. En Hy het hulle verlaat en weggegaan.
5En toe sy dissipels na die oorkant gegaan het, het hulle vergeet om brode saam te neem.
6Daarop sê Jesus vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.
7En hulle het onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is omdat ons geen brode saamgeneem het nie.
8Maar Jesus het dit opgemerk en vir hulle gesê: Wat redeneer julle onder mekaar, kleingelowiges, dat julle geen brode saamgeneem het nie?
9Begryp julle nog nie, en onthou julle nie die vyf brode van die vyfduisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie?
10Of die sewe brode van die vierduisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie?
11Hoe is dit dat julle nie begryp dat Ek nie in verband met brood vir julle gesê het om op te pas vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs nie?
12Toe het hulle begryp dat Hy nie gesê het dat hulle moes oppas vir die suurdeeg van die brood nie, maar vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs.
Die belydenis van Petrus.
(Mk. 8:27-33; Lk. 9:18-22; Joh. 6:66-69.)
13 EN toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filíppi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?
14En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete.
15Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek?
16En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God.
17Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.
18En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
19En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.
20 Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie.
21Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.
22Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!
23Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.
Die opneem van die kruis.
(Mk. 8:34; 9:1; Lk. 9:23-27.)
24TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.
25Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.
26Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?
27Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.
28Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid