SAGARÍA 5

5
Sesde gesig: die vlieënde boekrol.
1EN ek het my oë weer opgeslaan en gekyk — daar was 'n vlieënde boekrol.
2En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien 'n vlieënde boekrol, sy lengte is twintig el en sy breedte tien el.
3Daarop sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land; want ooreenkomstig daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim word, en ooreenkomstig daarmee sal al die meinediges hiervandaan weggeruim word.
4En laat dit uitgaan, spreek die Here van die leërskare, en dit sal kom in die huis van die dief en in die huis van hom wat vals sweer by my Naam; en dit sal binne-in sy huis vernag en dit verteer saam met sy balke en sy klippe.
Sewende gesig: die vrou in die efa.
5DAAROP kom die engel vorentoe wat met my gespreek het, en sê vir my: Slaan tog jou oë op, en kyk wat daar te voorskyn kom.
6Toe sê ek: Wat beteken dit? En hy antwoord: Dit is die efa wat te voorskyn kom. Verder het hy gesê: So lyk hulle in die ganse land.
7En meteens word daar 'n looddeksel opgelig, en daar was 'n vrou wat binne-in die efa sit.
8En hy sê: Dit is die goddeloosheid. En hy het haar binne-in die efa teruggewerp en die looddeksel op die opening daarvan gegooi.
9Toe slaan ek my oë op en kyk — daar kom twee vroue te voorskyn met die wind in hulle vlerke; en hulle het vlerke gehad soos die vlerke van 'n groot sprinkaanvoël, en hulle het die efa weggevoer tussen die aarde en die hemel.
10Daarop sê ek aan die engel wat met my gespreek het: Waarheen bring hulle die efa?
11En hy antwoord my: Om vir haar 'n huis te bou in die land Sínear; en is dit klaar, dan word sy daar op haar plek neergesit.

Tans Gekies:

SAGARÍA 5: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid