SAGARÍA 12

12
Heil en seën vir die volk van die Here in die verre toekoms.
1 GODSPRAAK. Die woord van die Here oor Israel. Die Here spreek, wat die hemele uitsprei en die aarde grondves en die gees van die mens in sy binneste formeer:
2Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot 'n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem.
3En in dié dag maak Ek Jerusalem tot 'n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seermaak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word.
4In dié dag, spreek die Here, sal Ek al die perde met verwarring slaan en hulle ruiters met waansin; maar oor die huis van Juda sal Ek my oë oophou, terwyl Ek al die perde van die volke met blindheid slaan.
5Dan sal die stamhoofde van Juda in hulle hart sê: Die inwoners van Jerusalem is vir my 'n sterkte deur die Here van die leërskare, hulle God.
6In dié dag sal Ek die stamhoofde van Juda maak soos 'n pan met vuur onder 'n hoop hout en soos 'n brandende fakkel onder gerwe — hulle sal regs en links al die volke rondom verteer; maar Jerusalem sal nog bewoond wees op sy plek in Jerusalem.
7En die Here sal eers die tente van Juda verlos, sodat die roem van die huis van Dawid en die roem van die inwoners van Jerusalem dié van Juda nie sal oortref nie.
8In dié dag sal die Here die inwoners van Jerusalem rondom beskut, en die struikelende onder hulle sal in dié dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid soos 'n hemelse wese, soos die Engel van die Here voor hulle uit.
9Ook sal Ek in dié dag daarna soek om al die nasies wat teen Jerusalem aankom, te verdelg.
10Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind.
11 In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megíddo.
12En die land sal rouklaag by geslagte, elke geslag afsonderlik; die geslag van die huis van Dawid afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van die huis van Natan afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik;
13die geslag van die huis van Levi afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van Símeï afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik.
14Al die ander geslagte — elke geslag afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik.

Tans Gekies:

SAGARÍA 12: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid