PSALMS 91

91
In die beskerming van die Allerhoogste.
1HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.
2Ek sal tot die Here sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.
3Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.
4Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.
5Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie,
6vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!
7Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie.
8Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.
9Want U, Here, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.
10Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;
11 want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.
12Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.
13Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.
14Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.
15Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.
16 Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.

Tans Gekies:

PSALMS 91: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid