PSALMS 119:17-32

PSALMS 119:17-32 AFR53

Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar. Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur. U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal. Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar. Al sit vorste en beraadslaag teen my — u kneg oordink u insettinge. Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne. My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge! Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink. My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord. Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet. Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel. Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie! Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart.