SPREUKE 28

28
1DIE goddelose vlug sonder dat daar 'n vervolger is, maar die regverdiges voel hulle veilig soos 'n jong leeu.
2Deur die oortreding van 'n land word sy vorste baie, maar deur 'n verstandige mens met kennis is die reg duursaam.
3'n Man wat arm is en die armes verdruk, is soos 'n reën wat wegspoel en geen brood bring nie.
4Die wat die wet verlaat, hulle prys die goddelose; maar die wat die wet onderhou, word vererg oor hulle.
5 Slegte mense verstaan die reg nie, maar die wat die Here soek, verstaan alles.
6 Die arme wat in sy regskapenheid wandel, is beter as die verkeerde wat twee paaie wil loop en daarby ryk is.
7Wie die wet bewaar, is 'n verstandige seun; maar hy wat met deurbringers omgaan, steek sy vader in die skande.
8Wie sy goed vermeerder deur rente en deur woeker, maak bymekaar vir een wat hom oor die armes sal ontferm.
9Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is 'n gruwel.
10Wie die opregtes laat verdwaal op 'n verkeerde weg, sal self in sy eie kuil val; maar die regskapenes sal die goeie beërwe.
11'n Ryk man is wys in sy eie oë; maar 'n arme wat verstandig is, ondersoek hom terdeë.
12 As die regverdiges juig, is die heerlikheid groot; maar as die goddelose opkom, moet die mense gesoek word.
13 Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.
14Gelukkig is die mens wat gedurigdeur vrees; maar hy wat sy hart verhard, sal in die onheil val.
15 'n Leeu wat brom, en 'n beer wat hongerig is, so is 'n goddelose wat oor 'n arm volk heers.
16'n Vors wat gebrek aan verstand het, is wel ryk aan afpersinge, maar die wat onregverdige wins haat, sal die dae verleng.
17 'n Mens wat gedruk word deur die bloed van 'n mens, sal vlug tot by die graf; laat niemand hom vashou nie.
18Wie opreg wandel, sal gehelp word; maar hy wat verward is, wat die twee paaie betref, sal meteens val.
19 Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het armoede volop.
20'n Betroubare man is ryk aan seëninge; maar hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie.
21 Om partydig te wees, is nie goed nie, want ook vir 'n stuk brood kan 'n man 'n oortreding begaan.
22'n Afgunstige man oorhaas hom om ryk te word, en hy weet nie dat gebrek oor hom sal kom nie.
23Hy wat 'n mens teregwys, sal agterna meer guns vind as hy wat vlei.
24Wie sy vader of sy moeder berowe, en sê: Dit is geen oortreding nie! — hy is 'n bondgenoot van 'n man wat verderflik handel.
25 Die hebsugtige verwek twis; maar hy wat op die Here vertrou, word verkwik.
26Wie op sy eie hart vertrou, hy is 'n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.
27 Wie aan die arme gee, sal nie gebrek ly nie; maar hy wat sy oë toemaak, word swaar vervloek.
28As die goddelose opkom, verberg die mens homself; maar as hulle omkom, word die regverdiges baie.

Tans Gekies:

SPREUKE 28: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid