FILIPPENSE 4

4
1DAAROM, my geliefde broeders, na wie ek ook verlang, my blydskap en kroon, staan so vas in die Here, geliefdes.
2Ek vermaan Euódia en ek vermaan Síntiché om eensgesind te wees in die Here.
3En ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saam gestry het in die evangelie, ook saam met Clemens en my ander mede-arbeiders wie se name in die boek van die lewe is.
4 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!
5Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.
6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
7En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.
8Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.
9 En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.
Erkentlikheid van Paulus vir die gawe wat hy van die Filippense ontvang het. Groete.
10EK het my grootliks verbly in die Here dat julle nou eindelik weer opgeleef het om aan my belange te dink; waaraan julle ook gedink het, maar julle het die geleentheid nie gehad nie.
11Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.
12Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.
13Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.
14Nogtans het julle goed gedoen toe julle deel gehad het in my verdrukking.
15En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen.
16Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur.
17 Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening.
18Maar ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafrodítus ontvang het wat deur julle gestuur is, 'n lieflike geur, 'n welgevallige offer, welbehaaglik by God.
19En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.
20Aan onse God en Vader die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
21Groet elke heilige in Christus Jesus. Die broeders wat saam met my is, groet julle.
22 Al die heiliges, en veral die wat aan die keiserlike huis behoort, groet julle.
23 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid