NÚMERI 25

25
Die Israeliete bedryf hoerery en afgodery by Sittim.
1TOE Israel in Sittim gebly het, het die volk begin hoereer met die dogters van die Moabiete —
2 dié het die volk na die offers van hulle gode uitgenooi; en die volk het geëet en hulle neergebuig voor hulle gode.
3So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van die Here het teen Israel ontvlam.
4Toe sê die Here vir Moses: Neem al die hoofde van die volk en hang die oortreders op in die volle son vir die Here, sodat die toorngloed van die Here van Israel afgewend kan word.
5Daarop het Moses aan die rigters in Israel gesê: Slaan elkeen sy manne dood wat hulle aan Baäl-Peor gekoppel het.
6En daar het 'n man gekom, een uit die kinders van Israel, en 'n Midianitiese vrou na sy volksgenote gebring, voor die oë van Moses en voor die oë van die hele vergadering van die kinders van Israel, terwyl hulle ween by die ingang van die tent van samekoms.
7 Toe Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, dit sien, het hy uit die vergadering uit opgestaan en 'n spies in sy hand geneem
8en agter die Israelitiese man aan gegaan in die tent en hulle twee deurboor, die Israelitiese man en die vrou, in haar onderlyf. Daarna het die plaag onder die kinders van Israel opgehou.
9En die wat deur die plaag gesterf het, was vier-en-twintigduisend.
10Toe het die Here met Moses gespreek en gesê:
11Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, het my grimmigheid van die kinders van Israel afgewend deurdat hy my ywer onder hulle geywer het, sodat Ek die kinders van Israel in my ywer nie verteer het nie.
12Daarom spreek: Kyk, Ek sluit met hom my vredeverbond,
13en dit sal vir hom en sy nageslag ná hom die verbond van ewige priesterskap wees, omdat hy vir sy God geywer en versoening vir die kinders van Israel gedoen het.
14En die naam van die Israelitiese man wat verslaan is, wat saam met die Midianitiese vrou verslaan is, was Simri, die seun van Salu, owerste van 'n familie van die Simeoniete.
15En die naam van die Midianitiese vrou wat verslaan is, was Kosbi, die dogter van Sur. Hy was stamhoof van 'n familie in Mídian.
16Verder het die Here met Moses gespreek en gesê:
17 Behandel die Midianiete as vyand en verslaan hulle,
18want hulle het julle as vyand behandel deur hulle liste wat hulle teen julle bedink het in die saak van Peor en in die saak van Kosbi, die dogter van die vors van Mídian, hulle landgenoot, wat op die dag van die plaag weens Peor verslaan is.

Tans Gekies:

NÚMERI 25: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid