MARKUS 8

8
Tweede vermeerdering van die brode.
(Mt. 15:29-39.)
1IN dié dae toe daar 'n baie groot menigte was en hulle niks gehad het om te eet nie, het Jesus sy dissipels na Hom geroep en vir hulle gesê:
2 Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie.
3En as Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op die pad beswyk, want sommige van hulle kom van ver.
4En sy dissipels antwoord Hom: Waarvandaan sal 'n mens hulle hier in die woestyn kan versadig met brood?
5Toe vra Hy hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle sê: Sewe.
6En Hy gee aan die skare bevel om op die grond te gaan sit; daarop neem Hy die sewe brode, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels om dit voor te sit; en hulle sit dit aan die skare voor.
7Hulle het ook 'n paar vissies gehad; en nadat Hy gedank het, sê Hy dat hulle dit ook moet voorsit.
8En hulle het geëet en versadig geword en die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol.
9En die wat geëet het, was omtrent vierduisend. En Hy het hulle weggestuur.
Die suurdeeg van die Fariseërs.
(Mt. 16:1-12.)
10 EN dadelik het Hy met sy dissipels in die skuit geklim en in die streke van Dalmanúta gekom.
11En die Fariseërs het uitgegaan en met Hom begin redetwis en van Hom 'n teken uit die hemel gevra om Hom te versoek.
12Toe sug Hy swaar in sy gees en sê: Waarom begeer hierdie geslag 'n teken? Voorwaar Ek sê vir julle, aan hierdie geslag sal sekerlik geen teken gegee word nie.
13En Hy het hulle verlaat en weer in die skuit geklim en na die oorkant gegaan.
14En hulle het vergeet om brode saam te neem, en het net een brood by hulle in die skuit gehad.
15En Hy het hulle beveel en gesê: Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.
16Toe redeneer hulle onder mekaar en sê: Dit is omdat ons geen brode het nie.
17En Jesus merk dit en sê vir hulle: Waarom redeneer julle dat julle geen brode het nie? Begryp julle nie en verstaan julle nie? Het julle nog jul verharde hart?
18Het julle oë en sien julle nie? En het julle ore en hoor julle nie?
19En onthou julle nie toe Ek die vyf brode vir die vyfduisend gebreek het, hoeveel mandjies vol brokstukke julle opgetel het nie? Hulle sê vir Hom: Twaalf.
20En die sewe vir die vierduisend — hoeveel mandjies vol brokstukke het julle opgetel? En hulle sê: Sewe.
21Toe sê Hy vir hulle: Hoe verstaan julle dan nie!
Genesing van die blinde man in Betsáida.
22EN Hy het in Betsáida gekom, en hulle het 'n blinde man na Hom gebring en Hom gesmeek om hom aan te raak.
23Hy neem toe die blinde by die hand en lei hom uit buitekant die dorp; en nadat Hy in sy oë gespuug en hom die hande opgelê het, vra Hy hom of hy iets sien.
24En hy kyk op en sê: Ek sien die mense, want ek sien hulle soos bome rondloop.
25Daarna lê Hy weer die hande op sy oë en laat hom opkyk, en hy is herstel en het almal van ver af duidelik gesien.
26En Hy het hom na sy huis gestuur en gesê: Moenie in die dorp gaan of dit aan iemand in die dorp vertel nie.
Belydenis van Petrus.
(Mt. 16:13-23 en ooreenk. pl.)
27 EN Jesus en sy dissipels het uitgegaan na die dorpe van Cesaréa-Filíppi; en op die pad vra Hy sy dissipels en sê vir hulle: Wie sê die mense is Ek?
28En hulle antwoord: Johannes die Doper, en ander: Elía, en ander: Een van die profete.
29En Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê vir Hom: U is die Christus.
30 En Hy het hulle streng beveel om niemand van Hom te vertel nie.
31Toe het Hy hulle begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en ná drie dae opstaan.
32En hierdie woord het Hy ronduit gespreek. En Petrus het Hom opsy geneem en Hom begin bestraf.
33Maar Hy het Hom omgedraai, en terwyl Hy sy dissipels aankyk, het Hy Petrus bestraf en gesê: Gaan weg agter My, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van die mense.
Om die kruis op te neem.
(Mt. 16:24-28 en ooreenk. pl.)
34EN toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.
35Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red.
36Want wat sal dit 'n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?
37Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?
38Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.

Tans Gekies:

MARKUS 8: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid