MARKUS 6

6
Jesus in Násaret verag.
(Mt. 13:53-56.)
1EN Hy het daarvandaan weggegaan en in sy vaderstad gekom, en sy dissipels het Hom gevolg.
2En toe dit sabbat geword het, begin Hy in die sinagoge te leer, en baie wat Hom gehoor het, was verslae en sê: Waar kry Hy hierdie dinge vandaan, en watter wysheid is aan Hom gegee, dat ook sulke kragte deur sy hande plaasvind?
3Is Hy nie die timmerman, die seun van Maria, en die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon nie? En is sy susters nie hier by ons nie? En hulle het aanstoot aan Hom geneem.
4En Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en onder sy familie en in sy huis.
5En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het.
6En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof. Daarop het Hy die dorpe rondom deurgegaan en geleer.
Die sending van die twaalf.
(Mt. 10:5 vv. en ooreenk. pl.)
7 EN Hy het die twaalf na Hom geroep en hulle twee-twee begin uitstuur en het hulle mag gegee oor die onreine geeste,
8en hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te neem nie as net 'n stok alleen — geen reissak, geen brood, geen geld in die beurs nie,
9maar skoene aan die voete; en: Julle moet nie twee kledingstukke aantrek nie.
10En Hy het vir hulle gesê: Waar julle ook al in 'n huis mag kom, bly dáár totdat julle daarvandaan vertrek.
11En almal wat julle nie ontvang of na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof onder julle voete af tot 'n getuienis teen hulle. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir Sodom of Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.
12En hulle het uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moes bekeer.
13En hulle het baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.
Dood van Johannes die Doper.
(Mt. 14:1-12 en ooreenk. pl.)
14 TOE koning Herodes dit hoor — want sy naam het bekend geword — het hy gesê: Johannes die Doper het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in Hom.
15 Ander het gesê: Hy is Elía, en ander weer het gesê: Hy is 'n profeet of soos een van die profete.
16Maar toe Herodes dit hoor, sê hy: Johannes wat ek onthoof het, dit is hy; hy het uit die dode opgestaan.
17Want Herodes self het gestuur en Johannes gevange geneem en hom in die gevangenis geboei, vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, omdat hy met haar getrou het.
18Want Johannes het aan Herodes gesê: Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou te hê nie.
19En Heródias het 'n oog op hom gehad en wou hom om die lewe bring en sy kon nie.
20Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm; en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister.
21En op die geskikte dag, toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy groot manne en die owerstes oor duisend en die vernaamstes van Galiléa 'n maaltyd gegee het;
22en toe die dogter van dieselfde Heródias inkom en dans, en Herodes en die wat saam aan tafel was, behaag, sê die koning vir die meisie: Vra my net wat jy wil, en ek sal dit aan jou gee.
23En hy het vir haar gesweer: Net wat jy my vra, sal ek jou gee, al was dit ook die helfte van my koninkryk.
24Daarop gaan sy uit en sê vir haar moeder: Wat sal ek vra? Toe antwoord sy: Die hoof van Johannes die Doper.
25En dadelik gaan sy haastig in na die koning en vra en sê: Ek wil hê dat u my op die daad die hoof van Johannes die Doper op 'n skottel gee.
26Toe word die koning baie bedroef, maar ter wille van die eed en die wat saam aan tafel was, wou hy haar nie afwys nie.
27En die koning stuur dadelik een van sy lyfwag met die bevel om sy hoof te bring; en hy het gegaan en hom in die gevangenis onthoof
28en sy hoof op 'n skottel gebring en dit aan die meisie gegee, en die meisie het dit aan haar moeder gegee.
29En toe sy dissipels dit hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en dit in 'n graf neergelê.
Eerste vermeerdering van die brode.
(Mt. 14:13-21 en ooreenk. pl.)
30 EN die apostels het by Jesus saamgekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen sowel as wat hulle geleer het.
31En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na 'n verlate plek en rus 'n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie.
32 En hulle het met die skuit vertrek na 'n verlate plek in die eensaamheid.
33En die skare het hulle sien weggaan, en baie het Hom herken en te voet van al die stede af daar saamgestroom en voor hulle uit gegaan en by Hom vergader.
34 En toe Jesus uitklim, sien Hy 'n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer.
35En toe dit reeds laat geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate en dit is reeds laat.
36Stuur hulle weg, sodat hulle na die buitewyke en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want hulle het niks om te eet nie.
37Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Gee julle aan hulle iets om te eet. En hulle sê vir Hom: Moet ons gaan en vir tweehonderd pennings brood koop en aan hulle gee om te eet?
38En Hy sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? Gaan kyk. En toe hulle dit te wete gekom het, sê hulle: Vyf, en twee visse.
39En Hy het hulle beveel om almal klompies-klompies op die groen gras te laat sit.
40En hulle het gaan sit in groepe van honderd en van vyftig.
41Hy neem toe die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en Hy breek die brode en gee dit aan sy dissipels om dit aan hulle voor te sit. Ook die twee visse het Hy onder almal verdeel.
42En almal het geëet en versadig geword;
43en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse.
44En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyfduisend manne.
Jesus wandel op die see.
(Mt. 14:22-36 en ooreenk. pl.)
45 EN dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en vooruit te vaar na die oorkant, na Betsáida, onderwyl Hy die skare sou wegstuur.
46En nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid.
47En toe dit aand geword het, was die skuit in die middel van die see en Hy alleen op die land.
48En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle. En omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom, al wandelende op die see. En Hy wou by hulle verbygaan.
49En toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gemeen dat dit 'n spook was en hard uitgeskreeu;
50want hulle het Hom almal gesien en was ontsteld. Toe spreek Hy dadelik met hulle en sê vir hulle: Hou goeie moed, dit is Ek; moenie vrees nie.
51En Hy het by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê; en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd.
52Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie, omdat hulle hart verhard was.
53En nadat hulle oorgevaar het, het hulle by die land Gennésaret aangekom en daar aan wal gaan lê.
54En toe hulle uit die skuit gaan, het die mense Hom dadelik herken,
55en hulle het in daardie hele omtrek rondgeloop en die wat ongesteld was, op bedde begin ronddra na die plek waar hulle hoor dat Hy is.
56En waar Hy ook al ingegaan het in dorpe of stede of buitewyke, het hulle die wat ongesteld was, op die markpleine neergesit en Hom gesmeek om, al was dit maar die soom van sy kleed, aan te raak; en almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.

Tans Gekies:

MARKUS 6: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid