MATTHÉÜS 11:2-19

MATTHÉÜS 11:2-19 AFR53

En Johannes het in die gevangenis gehoor van die werke van Christus, en twee van sy dissipels gestuur en vir Hom gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag? En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie. En toe hulle vertrek, begin Jesus vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan om in die woestyn te aanskou? 'n Riet wat deur die wind beweeg word? Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat sagte klere dra, is in die huise van konings. Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, ook baie meer as 'n profeet! Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak. Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy. Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld. Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer. En as julle dit wil aanneem: hy is Elía wat sou kom. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. Maar waarmee sal Ek hierdie geslag vergelyk? Dit is net soos kindertjies wat op die markte sit en na hulle maats roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie getreur nie. Want Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: Hy het 'n duiwel. Die Seun van die mens het gekom — Hy eet en drink, en hulle sê: Dáár is 'n mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en sondaars. Maar die wysheid is geregverdig deur sy kinders.

Gratis leesplanne en oordenkings oor MATTHÉÜS 11:2-19

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid