LEVÍTIKUS 3

3
Die dankoffer.
1EN as 'n dankoffer sy offer is, as hy dit bring van beeste, bul of vers, moet hy dit sonder gebrek voor die aangesig van die Here bring.
2En hy moet sy hand op die kop van sy offer lê en dit slag by die ingang van die tent van samekoms. En die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed rondom teen die altaar uitgooi.
3Dan moet hy van die dankoffer 'n vuuroffer aan die Here bring: die vet wat oor die binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is,
4en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die lewer — by die niere moet hy dit wegneem.
5En die seuns van Aäron moet dit op die altaar aan die brand steek, op die brandoffer wat op die hout is, bo op die vuur, as 'n vuuroffer van lieflike geur aan die Here.
6En as sy offer 'n stuk kleinvee is, as 'n dankoffer aan die Here, moet hy dit bring sonder gebrek, ram of ooi.
7As hy 'n skaaplam bring as sy offer, moet hy dit voor die aangesig van die Here bring
8en sy hand op die kop van sy offer lê en dit slag voor die tent van samekoms; en die seuns van Aäron moet die bloed rondom teen die altaar uitgooi.
9Daarna moet hy van die dankoffer die vet as vuuroffer aan die Here bring: die hele vetstert — naby die stuitjie moet hy dit wegneem — en die vet wat oor die binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is,
10en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die lewer — by die niere moet hy dit wegneem.
11En die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as vuurofferspys vir die Here.
12En as sy offer 'n bok is, moet hy dit voor die aangesig van die Here bring
13en sy hand op die kop daarvan lê en dit slag voor die tent van samekoms; en die seuns van Aäron moet die bloed rondom teen die altaar uitgooi.
14Dan moet hy daarvan sy offer as vuuroffer aan die Here bring; die vet wat oor die binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is,
15en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die lewer — by die niere moet hy dit wegneem.
16En die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as vuurofferspys vir 'n lieflike geur. Al die vet behoort aan die Here.
17'n Ewige insetting is dit vir julle geslagte in al julle woonplekke: géén vet en géén bloed mag julle eet nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid