LEVÍTIKUS 14

14
Wette oor die reiniging van 'n melaatse.
1VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:
2Dit is die wet van die melaatse op die dag van sy reiniging. Hy moet na die priester gebring word,
3en die priester moet buitekant die laer gaan. As die priester sien dat die plaag van melaatsheid genees is, van die melaatse weg is,
4moet die priester bevel gee dat hulle vir hom wat gereinig moet word, twee lewendige rein voëls en sederhout en skarlakendraad en hisop moet bring.
5Die priester moet ook bevel gee dat hulle die een voël in 'n erdepot oor vars water slag.
6Die lewendige voël moet hy neem, sowel as die sederhout en die skarlakendraad en die hisop, en dié en die lewendige voël insteek in die bloed van die voël wat oor die vars water geslag is.
7En hy moet op hom wat van die melaatsheid gereinig moet word, sewe maal sprinkel en hom reinig, en die lewendige voël moet hy oor die oop veld laat wegvlieg.
8Dan moet hy wat gereinig moet word, sy klere was en al sy hare afskeer en 'n bad neem; dan sal hy rein wees. En daarna kan hy in die laer kom, maar hy moet sewe dae lank buitekant sy tent bly.
9En op die sewende dag moet hy al sy hare afskeer, sy hoof en sy baard en sy winkbroue — al sy hare moet hy afskeer; en hy moet sy klere was en sy liggaam in die water bad. Dan sal hy rein wees.
10En op die agtste dag moet hy twee lammers sonder gebrek neem en een jaaroud ooilam sonder gebrek en drie-tiendes van 'n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, en een log olie.
11En die priester wat die reiniging bewerk, moet die man wat gereinig word, en dié gawes voor die aangesig van die Here by die ingang van die tent van samekoms stel.
12En die priester moet die een lam neem en dit saam met die log olie as skuldoffer aanbring en dit as beweegoffer voor die aangesig van die Here beweeg.
13Dan moet hy die lam slag op die plek waar hulle die sondoffer en die brandoffer slag, in die heilige plek; want die skuldoffer net soos die sondoffer behoort aan die priester; hoogheilig is dit.
14En die priester moet van die bloed van die skuldoffer neem, en die priester moet dit stryk aan die regteroorlel van hom wat gereinig word, en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet.
15Die priester moet ook van die log olie neem en dit giet in die priester se linkerhand.
16Dan moet die priester sy regtervinger in die olie steek wat in sy linkerhand is, en met sy vinger van die olie sewe maal sprinkel voor die aangesig van die Here.
17En van die orige olie wat in sy hand is, moet die priester stryk aan die regteroorlel van hom wat gereinig word, en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet, bo oor die bloed van die skuldoffer.
18Wat dan oor is van die olie wat in die priester se hand is, moet hy stryk op die hoof van hom wat gereinig word. So moet die priester dan vir hom versoening doen voor die aangesig van die Here.
19Die priester moet ook die sondoffer berei en vir hom wat gereinig word, versoening doen weens sy onreinheid; en daarna moet hy die brandoffer slag.
20En die priester moet die brandoffer en die spysoffer op die altaar offer. So moet die priester dan vir hom versoening doen, en hy sal rein wees.
21Maar as hy arm is en dit nie kan bekostig nie, moet hy een lam as skuldoffer neem om beweeg te word, om vir hom versoening te doen; daarby een tiende van 'n efa fynmeel met olie gemeng as spysoffer, en 'n log olie;
22 ook twee tortelduiwe of twee jong duiwe — wat hy kan bekostig; en die een sal wees 'n sondoffer en die ander 'n brandoffer.
23 Hy moet hulle dan op die agtste dag ná sy reiniging na die priester bring by die ingang van die tent van samekoms voor die aangesig van die Here.
24 En die priester moet die skuldofferlam en die log olie neem; en die priester moet dit as beweegoffer voor die aangesig van die Here beweeg.
25Dan moet hy die skuldofferlam slag, en die priester moet van die bloed van die skuldoffer neem en dit stryk aan die regteroorlel van hom wat gereinig word, en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet.
26Ook moet die priester van die olie in die priester se linkerhand giet.
27Dan moet die priester met sy regtervinger van die olie wat in sy linkerhand is, sewe maal sprinkel voor die aangesig van die Here.
28En die priester moet van die olie wat in sy hand is, stryk aan die regteroorlel van hom wat gereinig word, en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet, bo oor die plek van die bloed van die skuldoffer.
29Wat dan oor is van die olie wat in die priester se hand is, moet hy stryk op die hoof van hom wat gereinig word, om versoening vir hom te doen voor die aangesig van die Here.
30Dan moet hy een van die tortelduiwe berei of van die jong duiwe wat hy kan bekostig —
31die een as sondoffer en die ander as brandoffer, saam met die spysoffer. So moet die priester dan vir hom wat gereinig word, versoening doen voor die aangesig van die Here.
32Dit is die wet vir hom op wie die plaag van melaatsheid was, wat by sy reiniging nie vermoënd is nie.
Melaatsheid van huise.
33VERDER het die Here met Moses en Aäron gespreek en gesê:
34As julle in die land Kanaän inkom wat Ek julle as besitting gee, en Ek die plaag van melaatsheid in 'n huis van die land van julle besitting laat kom,
35moet hy aan wie die huis behoort, kom en aan die priester te kenne gee en sê: Dit lyk my of daar 'n plaag in die huis is.
36En die priester moet bevel gee dat hulle die huis ontruim, voordat die priester die plaag kom bekyk, sodat alles wat in die huis is, nie onrein word nie; en daarna moet die priester kom om die huis te bekyk.
37As hy die plaag bekyk en sien dat die plaag aan die mure van die huis is soos liggroen of rooierige kuiltjies, en hulle dieper lyk as die muur,
38dan moet die priester uit die huis uitgaan na die deur van die huis en die huis sewe dae lank toesluit.
39Op die sewende dag moet die priester dan terugkom; sien hy dan dat die plaag hom uitgebrei het aan die mure van die huis,
40dan moet die priester bevel gee dat hulle die klippe uitbreek waaraan die plaag is, en dit buitekant die stad op 'n onrein plek gooi.
41En die huis moet hulle binnekant rondom afkrap en die klei wat hulle afgekrap het, buitekant die stad op 'n onrein plek weggooi.
42Dan moet hulle ander klippe neem en in die plek van daardie klippe insit, en hulle moet ander klei neem en die huis pleister.
43Maar as die plaag weer in die huis uitbreek nadat hulle die klippe uitgebreek en die huis afgekrap het en dit gepleister is,
44moet die priester kom; en as hy sien dat die plaag in die huis versprei het, dan is dit 'n kwaadaardige melaatsheid in die huis; dit is onrein.
45Daarom moet hulle die huis afbreek: sy klippe en sy hout en al die klei van die huis, en hulle moet dit buitekant die stad op 'n onrein plek uitbring.
46En hy wat in die huis kom, al die tyd dat hulle dit toegesluit hou, sal tot die aand toe onrein wees.
47En hy wat in die huis slaap, moet sy klere was; en hy wat in die huis eet, moet sy klere was.
48Maar as die priester kom en sien dat die plaag nie in die huis versprei het nadat die huis gepleister is nie, dan moet die priester die huis rein verklaar, want die aangetaste plek het gesond geword.
49Dan moet hy om die huis te ontsondig twee voëls neem en sederhout en skarlakendraad en hisop,
50en die een voël in 'n erdepot oor vars water slag.
51Dan moet hy die sederhout en die hisop en die skarlakendraad en die lewendige voël neem en dit in die bloed van die geslagte voël en in die vars water insteek; en hy moet die huis sewe maal besprinkel.
52So moet hy dan die huis ontsondig met die bloed van die voël sowel as met die vars water en die lewendige voël en die sederhout en die hisop en die skarlakendraad.
53Daarop moet hy die lewendige voël buitekant die stad oor die oop veld laat wegvlieg. So moet hy dan vir die huis versoening doen, en dit sal rein wees.
54Dit is die wet oor elke plaag van melaatsheid en oor skurfte
55en oor melaatsheid van klere en huise
56en oor swelsels en uitslag en ligte vlekke,
57om te onderrig wanneer iets onrein en wanneer iets rein is. Dit is die wet oor die melaatsheid.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid