LEVÍTIKUS 10

10
Nadab en Abíhu word deur vuur van die Here verteer.
1EN die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die Here gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie.
2Daarop het daar vuur van die aangesig van die Here uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die Here.
3Toe sê Moses vir Aäron: Dit is dit wat die Here gespreek het deur te sê: In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik. Maar Aäron het stilgebly.
4En Moses het Mísael en Élsafan, die seuns van Ússiël, die oom van Aäron, geroep en aan hulle gesê: Kom nader, dra julle broers van die heiligdom af weg, buitekant die laer uit.
5Toe het hulle nader gekom en hulle in hul rokke buitekant die laer uitgedra soos Moses gesê het.
6Daarop sê Moses aan Aäron en sy seuns Eleásar en Ítamar: Laat julle hare nie loshang nie en maak geen skeure in julle klere nie, dat julle nie sterwe en Hy in toorn teen die hele vergadering losbreek nie. Maar julle broers, die hele huis van Israel, kan die brand beween wat die Here aangesteek het.
7 Julle mag ook uit die ingang van die tent van samekoms nie uitgaan nie, dat julle nie sterwe nie; want die salfolie van die Here is op julle. En hulle het gehandel ooreenkomstig die woord van Moses.
8En die Here het met Aäron gespreek en gesê:
9 Moenie wyn of sterk drank drink nie, jy of jou seuns saam met jou as julle in die tent van samekoms ingaan, dat julle nie sterwe nie; 'n ewige insetting is dit vir julle geslagte;
10en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is;
11 en julle moet die kinders van Israel leer al die insettinge wat die Here deur die diens van Moses aan hulle verkondig het.
12En Moses het met Aäron gespreek en met sy seuns Eleásar en Ítamar wat oorgebly het: Neem die spysoffer wat van die vuuroffers van die Here oorgebly het, en eet dit as ongesuurde koeke langs die altaar; want dit is hoogheilig.
13Daarom moet julle dit op 'n heilige plek eet, want dit is wat aan jou en jou seuns toekom uit die vuuroffers van die Here; want so is aan my bevel gegee.
14Ook die beweegbors en die hefboud moet julle op 'n rein plek eet, jy en jou seuns en jou dogters saam met jou; want as deel wat aan jou en jou seuns toekom, is hulle uit die dankoffers van die kinders van Israel gegee.
15Die hefboud en die beweegbors moet hulle saam met die vuuroffers van die stukke vet bring om as beweegoffer voor die aangesig van die Here te beweeg; en dit sal vir jou en jou seuns saam met jou 'n deel wees wat aan julle vir ewig toekom soos die Here beveel het.
16En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Ítamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê:
17 Waarom het julle die sondoffer nie op 'n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van die Here.
18Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het.
19Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van die Here gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van die Here?
20Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid