KLAAGLIEDERE 3:22-66
KLAAGLIEDERE 3:22-66 AFR53
Get. dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. Tet. Goed is die Here vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die Here. Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra. Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het. Laat hy sy mond in die stof steek — miskien is daar hoop! Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad. Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie. Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede; want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie. Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap, dat hulle die reg van 'n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste, dat hulle 'n mens onregverdig behandel in sy regsaak — het die Here dit nie gesien nie? Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie? Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie? Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes. Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die Here bekeer; laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê: Óns het oortree en ons was wederstrewig — Ú het nie vergewe nie. Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning. U het Uself in 'n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie; U het ons 'n uitvaagsel en 'n wegwerpsel onder die volke gemaak. Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek; skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking. My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk. Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou, totdat die Here uit die hemel neersien en aanskou. My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad. Sade. Hulle het my soos 'n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is; hulle het my lewe in 'n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi. Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my! Kof. Ek roep u Naam aan, Here, uit die onderste kuil. U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie. U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie! Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe. U sien, Here, my verdrukking; verskaf my tog reg. U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my. Sjin. U hoor hulle smaadrede, Here, al hulle planne teen my, die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my. Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied. Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, Here. U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle. U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die Hereuit.









