JOB 30

30
En nou? Selfs die laagste klas mense lag hom uit.
1EN nóú lag hulle wat jonger is as ek, my uit — mense wie se vaders ek te min geag het om by my herdershonde te sit.
2Wat sou die krag van hulle hande my ook baat? Die frisse lewenskrag het by hulle verlore gegaan.
3Hulle is uitgeput deur gebrek en honger, hulle wat die dor land afknaag in die donkerheid van woestheid en verwoesting;
4hulle wat die soutkruid afpluk by die bossies, en die besemboswortel is hulle brood.
5Uit die samelewing word hulle weggejaag; die mense skreeu oor hulle soos oor 'n dief.
6In die afgryslike klowe moet hulle woon, in gate in die grond en in rotse.
7Tussen die bossies skreeu hulle, onder brandnekels kruip hulle bymekaar —
8dwase, ja, eerlose mense wat met 'n sweep uit die land geslaan word.
9 En nou het ek hulle spotlied geword en die onderwerp van hulle gepraat.
10Hulle het 'n afsku van my, staan op 'n afstand van my af en ontsien nie om my in die gesig te spuug nie.
11Want Hy het my boogsnaar losgemaak en my verneder; so het hulle dan teenoor my die teuel laat skiet.
12Aan die regterhand staan die gespuis op; hulle stoot my voete weg en gooi hul onheilspaaie teen my op.
13My pad verniel hulle, hulle help om my te laat val sonder dat hulle self 'n helper het.
14Soos deur 'n wye bres kom hulle; te midde van die puinhope kom hulle aanrol.
15Verskrikkinge is teen my gerig; hulle vervolg my hoogheid soos die wind, en soos 'n wolk het my geluk verbygegaan.
16Daarom stort my siel hom nou uit in my; dae van ellende hou my vas.
17Die nag deurboor my gebeente, en dit val van my af; en my knaende pyne rus nooit nie.
18Deur goddelike oormag is my kleed ontredder; soos die kraag van my lyfrok omspan dit my.
19Hy het my in die modder gewerp, en ek het soos stof en as geword.
20Ek roep U aan om hulp, maar U antwoord my nie; ek staan daar, en U staar my aan.
21U is jeens my verander in 'n onbarmhartige; deur die sterkte van u hand behandel U my as vyand.
22U hef my op die wind, laat my daarop ry; en U laat my vergaan in stormgedruis.
23Want ek weet: U wil my na die dood toe bring en na die huis waar al wat lewe, saamkom.
24Maar sal iemand by die ineenstorting nie nog die hand uitsteek of by sy ondergang om dié rede om hulp roep nie?
25Of het ek nie geween oor hom wat harde dae het nie? Was my siel nie bekommerd oor die behoeftige nie?
26Want ek het op die goeie gehoop, en onheil het gekom; en ek het gewag op lig, en donkerheid het gekom.
27My ingewande kook sonder ophou; dae van ellende het my teëgekom.
28 Ek gaan daarheen in die rou, sonder son; ek staan op in die vergadering, ek roep om hulp.
29Ek het 'n broer geword vir die jakkalse en 'n vriend vir die volstruise.
30 My vel het swart geword en val van my af, en my gebeente gloei van hitte.
31So het dan my siter 'n rouklag geword en my fluit 'n stem van die wat ween.

Tans Gekies:

JOB 30: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid