JOHANNES 2

2
Jesus verander water in wyn op die bruilof in Kana.
1EN op die derde dag was daar 'n bruilof te Kana in Galiléa, en die moeder van Jesus was daar.
2En Jesus en sy dissipels was ook na die bruilof genooi.
3En toe daar wyn kortkom, sê die moeder van Jesus vir Hom: Hulle het geen wyn nie.
4Jesus sê vir haar: Vrou, wat het Ek met u te doen? My uur het nog nie gekom nie.
5Sy moeder sê vir die dienaars: Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen.
6En daar het volgens die reinigingsgebruike van die Jode ses klipkanne gestaan, wat elkeen twee of drie ankers hou.
7Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water En hulle het hul tot bo toe volgemaak.
8En Hy sê aan hulle: Skep nou uit en bring dit vir die hoofdienaar. En hulle het dit gebring.
9En toe die hoofdienaar die water proe wat wyn geword het — en hy het nie geweet waarvandaan dit was nie, maar die dienaars wat die water geskep het, het geweet — roep die hoofdienaar die bruidegom
10en sê vir hom: Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar.
11Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.
12Daarna het Hy na Kapérnaüm afgegaan, Hy en sy moeder en sy broers en sy dissipels, en hulle het daar nie baie dae gebly nie.
Jesus reinig die tempel.
(Mt. 21:12 vv. en ooreenk. pl.)
13EN die pasga van die Jode was naby, en Jesus het opgegaan na Jerusalem.
14 En Hy het in die tempel gevind die wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldwisselaars wat daar sit.
15En Hy het 'n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer.
16En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader 'n handelshuis maak nie.
17En sy dissipels het onthou dat daar geskrywe is: Die ywer vir u huis het my verteer.
18Toe antwoord die Jode en sê vir Hom: Watter teken toon U aan ons, dat U hierdie dinge doen?
19Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.
20En die Jode sê: Ses-en-veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig?
21Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek.
22En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.
23En toe Hy in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen.
24Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het
25en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.

Tans Gekies:

JOHANNES 2: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid