JEREMIA 52

52
Die beleg, inneming en verwoesting van Jerusalem.
1 SEDEKÍA was een-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Hamútal, 'n dogter van Jeremia uit Libna.
2En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, net soos Jójakim gedoen het.
3Want dit het oor Jerusalem en Juda gekom weens die toorn van die Here, totdat Hy hulle van sy aangesig af weggewerp het. En Sedekía het gerebelleer teen die koning van Babel;
4 en in die negende jaar van sy regering, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het Nebukadrésar, die koning van Babel, teen Jerusalem gekom, hy en sy hele leër, en hulle het daarteen laer opgeslaan en daarteen skanse rondom gebou.
5En die stad is beleër tot die elfde jaar van die koning Sedekía.
6In die vierde maand, op die negende van die maand, toe die hongersnood sterk was in die stad en die mense van die land geen brood gehad het nie,
7is in die stad ingebreek, en al die krygsmanne het gevlug en in die nag uit die stad getrek deur die poort, tussen die twee mure wat by die koning se tuin is, terwyl die Chaldeërs rondom teen die stad was; en hulle het getrek op pad na die Vlakte toe.
8Maar die leër van die Chaldeërs het die koning agternagejaag en Sedekía in die vlaktes van Jérigo ingehaal, en sy hele leër is van hom af verstrooi.
9Toe vang hulle die koning en bring hom op na die koning van Babel, na Ribla, in die land Hamat; en hy het vonnis oor hom uitgespreek.
10En die koning van Babel het die seuns van Sedekía voor sy oë gedood. En hy het ook al die vorste van Juda in Ribla gedood.
11En hy het die oë van Sedekía laat verblind en hom met koperkettings geboei; daarna het die koning van Babel hom na Babel gebring en hom in die gevangenis gesit tot die dag van sy dood toe.
12En in die vyfde maand, op die tiende van die maand — dit was die negentiende jaar van koning Nebukadrésar, die koning van Babel — het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, wat voor die koning van Babel gestaan het, in Jerusalem gekom;
13en hy het die huis van die Here en die paleis van die koning verbrand; ook al die huise van Jerusalem en elke groot huis met vuur verbrand.
14En die hele leër van die Chaldeërs wat by die owerste van die lyfwag was, het al die mure van Jerusalem rondom omgegooi.
15En uit die armes van die volk en die deel van die volk wat nog in die stad oor was, en die oorlopers wat na die koning van Babel oorgeloop het — die oorblyfsel van die menigte, het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in ballingskap weggevoer.
16Maar uit die armes van die land het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, sommige laat agterbly as wynboere en as landbouers.
17Verder het die Chaldeërs die koperpilare wat in die huis van die Here was, en die afspoelwaentjies en die kopersee wat in die huis van die Here was, stukkend gebreek en al die koper daarvan na Babel weggevoer.
18Ook het hulle weggeneem die potte en die skoppe en die messe en die komme en die rookpanne en al die kopergereedskap waarmee die diens verrig is.
19En die owerste van die lyfwag het weggeneem die skottels en die vuurpanne en die komme en die potte en die kandelaars en die rookpanne en die bekers — wat van pure goud en wat van pure silwer was;
20die twee pilare, die een see en die twaalf koperbeeste daaronder; die afspoelwaentjies wat koning Salomo vir die huis van die Here gemaak het — die koper van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie.
21Wat betref die pilare, agttien el was die hoogte van een pilaar, en 'n lyn van twaalf el kon dit omspan; en sy dikte was vier vinger; dit was hol.
22En 'n kapiteel van koper was daarop, en die hoogte van een kapiteel was vyf el, met vlegwerk en granaatjies op die kapiteel rondom, alles van koper; en net so aan die tweede pilaar, met granaatjies.
23 En van die granaatjies was ses-en-negentig sigbaar; al die granaatjies was honderd op die vlegwerk rondom.
24Verder het die owerste van die lyfwag Serája, die hoofpriester, geneem, en Sefánja, die tweede priester, en die drie drumpelwagters.
25En uit die stad het hy geneem een hofdienaar wat oor die krygsmanne aangestel was, en sewe man uit die wat die koning se aangesig gesien het, wat in die stad aanwesig was; en die skrywer van die leërowerste wat die mense van die land vir krygsdiens opgeroep het, en sestig man van die mense van die land wat binne-in die stad aanwesig was.
26En Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, het hulle geneem en hulle na die koning van Babel, na Ribla gebring.
27En die koning van Babel het hulle neergeslaan en hulle gedood in Ribla, in die land Hamat. So is dan Juda uit sy land in ballingskap weggevoer.
28Dit is die mense wat Nebukadrésar in ballingskap weggevoer het: in die sewende jaar, drieduisend-drie-en-twintig Jode;
29 in die agttiende jaar van Nebukadrésar, uit Jerusalem agthonderd-twee-en-dertig siele;
30in die drie-en-twintigste jaar van Nebukadrésar het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, van die Jode sewehonderd-vyf-en-veertig siele in ballingskap weggevoer. Al die siele is vierduisend-seshonderd.
31 En in die sewen-en-dertigste jaar van die ballingskap van Jójagin, die koning van Juda, in die twaalfde maand, op die vyf-en-twintigste van die maand, het Evil-Meródag, die koning van Babel, in die jaar van sy troonsbestyging die hoof van Jójagin, die koning van Juda, verhef en hom uit die gevangenis uitgebring.
32En hy het vriendelik met hom gespreek en sy stoel gesit bokant die stoel van die konings wat by hom in Babel was.
33En hy het sy gevangenisklere verwissel; en hy het gedurigdeur brood voor sy aangesig geëet, al die dae van sy lewe.
34En aangaande sy lewensonderhoud, 'n vaste lewensonderhoud is hom toegestaan deur die koning van Babel, na die eis van elke dag, tot die dag van sy dood toe, al die dae van sy lewe.

Tans Gekies:

JEREMIA 52: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid