JEREMIA 37

37
Jeremia in die gevangenis.
1EN Sedekía, die seun van Josía, wat Nebukadrésar, die koning van Babel, koning gemaak het in die land Juda, het as koning geregeer in die plek van Gonja, die seun van Jójakim.
2 Maar hy het nie geluister, hy en sy dienaars en die volk van die land, na die woorde van die Here wat Hy deur die diens van die profeet Jeremia gespreek het nie.
3Nogtans het koning Sedekía met Jugal, die seun van Selémja, en Sefánja, die seun van Maäséja, die priester, die profeet Jeremia laat weet: Bid tog tot die Here onse God vir ons.
4Toe het Jeremia nog in- en uitgegaan onder die volk, en hulle het hom nog nie in die gevangenis gesit nie.
5 Ook het die leër van Farao uit Egipte uitgetrek; en toe die Chaldeërs wat besig was om Jerusalem te beleër, die tyding aangaande hulle hoor, het hulle van Jerusalem af opgetrek.
6Daarop kom die woord van die Here tot die profeet Jeremia en sê:
7So spreek die Here, die God van Israel: So moet julle sê aan die koning van Juda wat julle na My gestuur het om My te raadpleeg: Kyk, die leër van Farao wat uitgetrek het om julle te help, sal teruggaan na sy land, na Egipte toe;
8en die Chaldeërs sal terugkom en teen hierdie stad oorlog voer en dit inneem en dit met vuur verbrand.
9So spreek die Here: Bedrieg julleself nie deur te sê: Die Chaldeërs sal sekerlik van ons af wegtrek — want hulle sal nie wegtrek nie.
10Want al sou julle die hele leër van die Chaldeërs wat teen julle oorlog voer, verslaan, sodat daar onder hulle net swaar gewondes oorbly, dan sou hulle elkeen in sy tent opstaan en hierdie stad met vuur verbrand.
11En toe die leër van die Chaldeërs van Jerusalem af opgetrek het vanweë die leër van Farao,
12wou Jeremia Jerusalem verlaat om in die land Benjamin te gaan, om daar te midde van die volk 'n erfdeel in ontvangs te neem.
13Toe hy in die Benjaminspoort kom, was daar 'n voorman van die wag met die naam Jiría, die seun van Selémja, die seun van Hanánja; en hy het die profeet Jeremia gevang, met die woorde: Jy wil na die Chaldeërs oorloop!
14Maar Jeremia het gesê: Leuens! Ek wil nie na die Chaldeërs oorloop nie. Maar hy het na hom nie geluister nie, en Jiría het Jeremia gevang en hom by die vorste gebring.
15En die vorste het vir Jeremia baie kwaad geword en hom geslaan en hom in die gevangenis gesit in die huis van die skrywer Jónatan; want hulle het daar 'n gevangenis van gemaak.
16Toe Jeremia in die kerker en in die gewelwe kom en Jeremia daar baie dae gebly het,
17het koning Sedekía gestuur en hom laat haal; en die koning het hom in sy huis in die geheim gevra en gesê: Is daar 'n woord van die Here? Toe antwoord Jeremia: Ja. Ook sê hy: U sal in die hand van die koning van Babel oorgelewer word.
18Verder het Jeremia aan die koning Sedekía gesê: Wat het ek teen u of teen u dienaars of teen hierdie volk gesondig, dat julle my in die gevangenis gesit het?
19En waar is julle profete wat vir julle geprofeteer het met die woorde: Die koning van Babel sal nie teen julle of teen hierdie land kom nie?
20Luister dan nou tog, my heer die koning! Laat tog my smeking voor u kom en laat my nie terugbring in die huis van die skrywer Jónatan, dat ek daar nie sterwe nie.
21Toe gee koning Sedekía bevel dat hulle Jeremia onder toesig moet hou in die voorhof van bewaking en aan hom daagliks 'n skyf brood uit die Bakkerstraat moet gee, totdat al die brood van die stad op was. So het Jeremia dan in die voorhof van bewaking gebly.

Tans Gekies:

JEREMIA 37: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid