RIGTERS 17

17
Miga voer 'n afgodediens in sy huis in.
1DAAR was 'n man van die gebergte van Efraim met die naam van Miga.
2Dié het aan sy moeder gesê: Die elfhonderd sikkels silwer wat van u geneem is en waaroor u 'n vloek uitgespreek het en dit ook voor my ore gesê het — hier is die geld by my, ék het dit geneem. Toe sê sy moeder: Mag jy geseënd wees deur die Here, my seun!
3En hy het aan sy moeder die elfhonderd sikkels silwer teruggegee. Maar sy moeder het gesê: Ek heilig plegtig die geld aan die Here; uit my hand is dit vir my seun om 'n gesnede en 'n gegote beeld te maak; ek sal dit dan nou aan jou teruggee.
4Toe hy dan die geld aan sy moeder teruggegee het, neem sy moeder tweehonderd sikkels silwer en gee dit aan 'n goudsmid; en hy het daar 'n gesnede en 'n gegote beeld van gemaak wat in die huis van Miga gekom het.
5Die man Miga het naamlik 'n godshuis gehad, en hy het 'n skouerkleed en huisgode gemaak en een van sy seuns aangestel om vir hom priester te wees.
6In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.
7En daar was 'n jongman van Betlehem-Juda, uit die geslag van Juda; hy was 'n Leviet wat daar as vreemdeling vertoef het.
8En die man het uit die stad, uit Betlehem-Juda, getrek om te vertoef waar hy plek kon kry; en op sy reis het hy in die gebergte van Efraim gekom tot by die huis van Miga.
9En Miga vra hom: Waar kom u vandaan? Toe sê hy vir hom: Ek is 'n Leviet, uit Betlehem-Juda, en ek is op trek om te vertoef waar ek plek kan kry.
10En Miga sê vir hom: Bly by my, en wees vir my 'n vader en 'n priester, dan sal ek u jaarliks tien sikkels silwer gee en 'n stel klere en u lewensonderhoud. En die Leviet het gegaan,
11en die Leviet het ingewillig om by die man te bly; en die jongman was vir hom soos een van sy seuns.
12En Miga het die Leviet aangestel, sodat die jongman sy priester geword het, en hy was in die huis van Miga.
13Toe sê Miga: Nou weet ek dat die Here aan my goed sal doen, omdat ek 'n Leviet as priester het.

Tans Gekies:

RIGTERS 17: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid