ESÉGIËL 35

35
Wraak oor Edom.
1VERDER het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
2Mensekind, rig jou aangesig teen die berg Seïr en profeteer teen hom.
3En sê vir hom: So spreek die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, o berg Seïr! En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou 'n wildernis en 'n woesteny maak.
4Ek sal jou stede 'n puinhoop maak, en jy self sal 'n wildernis word; en jy sal weet dat Ek die Here is.
5 Omdat jy 'n ewige vyandskap koester en die kinders van Israel in die mag van die swaard oorgelewer het in die tyd van hulle onheil, in die tyd van uiteindelike afrekening,
6daarom, so waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, Ek sal jou tot bloed maak, en bloed sal jou vervolg; omdat jy bloed nie gehaat het nie, sal bloed jou vervolg.
7En Ek sal die berg Seïr 'n woesteny en wildernis maak, en uit hom uitroei die wat deurtrek en wat terugkom.
8En Ek sal sy berge vol maak met die wat uit hom verslaan is; jou heuwels en jou dale en al jou klowe — die wat verslaan is deur die swaard, sal daarin val.
9Ewige wildernisse sal Ek jou maak, en jou stede sal nie bewoon word nie; en julle sal weet dat Ek die Here is.
10Omdat jy sê: Die twee nasies daar en die twee lande sal myne wees, en ons sal dit in besit neem — terwyl tog die Here daar gewees het —
11daarom, so waar as Ek leef, spreek die Here Here, Ek sal handel volgens jou toorn en jou naywer waarmee jy uit jou haat teen hulle gehandel het; en Ek sal onder hulle bekend word as Ek jou oordeel.
12En jy sal weet dat Ek, die Here, al jou lasterlike woorde gehoor het wat jy teen die berge van Israel gespreek het deur te sê: Hulle lê woes, hulle is aan ons gegee tot spys.
13So het julle dan jul groot gehou teen My met julle mond en julle woorde teen My opgehoop; Ek het dit gehoor.
14So sê die Here Here: Tot vreugde van die hele aarde sal Ek jou 'n wildernis maak.
15Soos jy vrolik was oor die erfdeel van die huis van Israel, omdat dit verwoes is, so sal Ek met jou maak: jy sal 'n wildernis word, o berg Seïr en die hele Edom, almal saam. En hulle sal weet dat Ek die Here is.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid