ESÉGIËL 28

28
1VERDER het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
2Mensekind, sê aan die vors van Tirus: So spreek die Here Here: Omdat jou hart hoogmoedig was en jy gesê het: Ek is 'n god, ek bewoon 'n godewoning in die hart van die seë — terwyl jy tog 'n mens is en geen god nie — en jou hart gemaak het soos die hart van 'n god;
3kyk, jy is wyser as Daniël, alles wat verborge is, is vir jou nie te duister nie!
4Deur jou wysheid en deur jou verstand het jy vir jou rykdom verkry, ja, jy het goud en silwer in jou skatkamers verwerf;
5deur die grootheid van jou wysheid in jou koophandel het jy jou rykdom vermeerder, en jou hart het hoogmoedig geword deur jou rykdom;
6daarom, so sê die Here Here: Omdat jy jou hart gemaak het soos die hart van 'n god,
7daarom, kyk, Ek bring vreemdes oor jou, die geweldigste nasies, en hulle sal hul swaarde trek teen die skoonheid wat jou wysheid verwerf het, en jou glans ontheilig.
8In die kuil sal hulle jou laat neerdaal, en jy sal in die hart van die seë die bittere dood sterwe van een wat verslaan is.
9Sal jy werklik sê, in die aangesig van hom wat jou doodmaak: Ek is 'n god! — terwyl jy tog 'n mens is in die hand van hulle wat jou deurboor, en geen god nie?
10Jy sal die dood van onbesnedenes sterwe, deur die hand van vreemdes; want Ek het dit gesê, spreek die Here Here.
11Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
12Mensekind, hef 'n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here Here: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid.
13Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei.
14Jy was 'n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op 'n heilige berg; 'n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes.
15Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.
16Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut!
17Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.
18 Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek 'n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het.
19Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het 'n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.
Teen Sidon.
20VERDER het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
21Mensekind, rig jou aangesig teen Sidon en profeteer teen hom
22en sê: So spreek die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, o Sidon, en Ek sal My verheerlik in jou midde; en hulle sal weet dat Ek die Here is as Ek in hom strafgerigte voltrek en My in hom as die Heilige laat ken.
23En Ek sal die pes in hom stuur en bloed op sy strate, en die gewondes sal in hom val deur die swaard wat teen hom is van alle kante, en hulle sal weet dat Ek die Here is.
24En daar sal vir die huis van Israel geen steekdoring en smartlike distel meer wees onder almal wat rondom hulle is nie, wat hulle verag; en hulle sal weet dat Ek die Here Here is.
25So sê die Here Here: As Ek die huis van Israel versamel uit die volke onder wie hulle verstrooi is, en Ek My in hulle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies, dan sal hulle in hul land woon wat Ek aan my kneg Jakob gegee het.
26En hulle sal daarin veilig woon en huise bou en wingerde plant; ja, hulle sal veilig woon as Ek strafgerigte voltrek teen almal wat hulle van alle kante verag; en hulle sal weet dat Ek die Here hulle God is.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid