ESÉGIËL 27

27
1VERDER het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
2Maar jy, mensekind, hef 'n klaaglied oor Tirus aan,
3en sê aan Tirus, wat woon by die ingange van die see, wat handel drywe met die volke na baie kuslande toe: So spreek die Here Here: o Tirus, jy sê: Ek is volmaak in skoonheid.
4In die hart van die seë is jou gebied; jou boumeesters het jou skoonheid volkome gemaak.
5Van sipresse uit Senir het hulle vir jou al die plankwerk gebou; 'n seder uit Líbanon het hulle geneem om op jou 'n mas te maak.
6Van eikebome uit Basan het hulle jou roeispane gemaak; jou dek het hulle gemaak uit ivoor, ingelê in dennehout uit die kuslande van die Kittiërs.
7Veelkleurige fyn linne uit Egipte was jou seil, om vir jou as vlag te dien; pers en purper stowwe uit die kuslande van Elísa was jou hutbedekking.
8Die inwoners van Sidon en Arwad was jou roeiers; jou wyse manne was in jou, o Tirus, hulle was jou stuurmanne.
9Die oudstes van Gebal en sy wyse manne was in jou om jou lekplekke reg te maak; al die skepe van die see en hulle seevaarders was in jou om jou koopware te verhandel.
10Perse en Ludiete en Putéërs was in jou leër, jou krygsmanne; skild en helm het hulle in jou opgehang; hulle het aan jou glans gegee.
11Die kinders van Arwad en jou leër was op jou mure rondom, en die Gammadiete was op jou torings; hul skilde het hulle aan jou mure rondom gehang; hulle het jou skoonheid volkome gemaak.
12 Tarsis het handel gedrywe met jou weens die menigte van allerhande goed: silwer, yster, tin en lood het hulle as handelsartikels aan jou gelewer.
13 Jawan, Tubal en Meseg, hulle was jou koopmans; slawe en kopergoed het hulle as koopware aan jou gelewer.
14Uit die huis van Togárma het hulle perde en ryperde en muilesels as handelsware aan jou gelewer.
15Die kinders van Dedan was jou koopmans, baie kuslande die handelsgebied wat tot jou beskikking gestaan het; olifantstande en ebbehout het hulle aan jou as betaling gebring.
16Aram het met jou handel gedrywe weens die menigte van jou kunswerke: karbonkel, purper en veelkleurige stowwe en fyn linne en korale en robyne het hulle as handelsartikels aan jou gelewer.
17Juda en die land Israel, hulle was jou koopmans; koring van Minnit en meel en heuning en olie en balsem het hulle as koopware aan jou gelewer.
18Damaskus het met jou handel gedrywe weens die menigte van jou kunswerke, weens die menigte van allerhande goed: wyn van Helbon en wit wol.
19Wedan en Jawan het uit Usal aan jou smee-yster as handelsartikel gelewer; kassie en kalmoes was onder jou koopware.
20Dedan het met jou handel gedrywe in saalkleedjies om op te ry.
21Arabië en al die vorste van Kedar, hulle was die koopmans wat tot jou beskikking gestaan het; lammers en ramme en bokke — daarin het hulle met jou handel gedrywe.
22Die koopmans van Skeba en Raëma, hulle was jou koopmans; die fynste van allerhande speserye en allerhande edelgesteentes en goud het hulle as handelsartikels aan jou gelewer.
23Haran en Kanne en Eden, die koopmans van Skeba, Assur en Kilmad het met jou handel gedrywe.
24Hulle was jou koopmans in pragtige klerasie, in mantels van pers stof en veelkleurige goed en in bont geweefde tapyte, in gevlegte en gedraaide toue, op jou mark.
25 Die skepe van Tarsis het jou koopware vir jou aangevoer, sodat jy vol en baie heerlik geword het in die hart van die seë.
26Die wat jou geroei het, het jou op groot waters gebring; die Oostewind het jou verbreek in die hart van die seë.
27Jou goed en jou handelsartikels, jou koopware, jou seevaarders en jou stuurmanne, die wat jou lekplekke reggemaak het en die wat jou koopware verhandel het, en al jou krygsmanne wat in jou is, saam met jou hele menigte wat in jou is — hulle sal val in die hart van die seë op die dag van jou val.
28Van die harde geskreeu van jou stuurmanne sal die oop velde bewe.
29 En almal wat die roeispaan hanteer, sal van hulle skepe afklim; die seevaarders, al die stuurmanne van die see, sal op die land gaan staan.
30En hulle sal hul stem oor jou laat hoor en bitterlik skreeu; en hulle sal stof op hul hoofde gooi, hulle wentel in die as.
31En hulle sal om jou ontwil 'n kaal plek skeer en rouklere aangord en oor jou ween met bitterheid van siel, in 'n bitter rouklag.
32En hulle sal in hul weeklag oor jou 'n klaaglied aanhef en oor jou sing: Wie was soos Tirus, die doodstille daar in die see?
33 Toe jou handelsware uit die see voortgekom het, het jy baie volke versadig; met die menigte van jou goed en jou koopware het jy die konings van die aarde ryk gemaak.
34Nou is jy verbreek van die see af in die dieptes van die waters; jou koopware en jou hele menigte het saam met jou weggesink.
35 Al die inwoners van die kuslande staan verbaas oor jou, en hulle konings huiwer van skrik, met donker aangesigte.
36Die handelaars onder die volke spot oor jou; jy het 'n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid