DEUTERONÓMIUM 32

32
Die lied wat Moses op bevel van God voorgedra het.
1LUISTER, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond.
2 Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante.
3Want die Naam van die Here roep ek uit: Gee grootheid aan onse God!
4 Die Rots — volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; 'n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.
5Hulle het verderflik teen Hom gehandel — die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek — 'n verkeerde en verdraaide geslag.
6Durf julle dit die Here vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hý nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hý jou nie gemaak en jou toeberei nie?
7Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê.
8Toe die Allerhoogste aan die nasies 'n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.
9Want die Here se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel.
10Hy het hom gevind in 'n woestynland en in 'n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel.
11 Soos 'n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels —
12die Here alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.
13 Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde, en hy het die opbrings van die veld geëet; en Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die klipharde rots;
14dikmelk van beeste en melk van kleinvee, met die vet van lammers en ramme; stiere van Basan en bokke, met die niervet van koring; en druiwebloed het jy gedrink, skuimende wyn.
15Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop — jy het vet geword, dik geword, spekvet geword — en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.
16 Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg.
17 Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie.
18Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het.
19Toe die Here dit sien, het Hy hulle verwerp, uit ergernis oor sy seuns en dogters.
20En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want 'n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie.
21Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ek sal dan hulle ywer wek deur die wat 'n nie-volk is, deur 'n dwase nasie sal Ek hulle terg.
22Want 'n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder, en dit het die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek.
23Ek sal onheile op hulle ophoop; my pyle sal Ek op hulle wegskiet.
24As hulle uitgeput is van honger en verteer deur koorsgloed en dodelike siekte, sal Ek die tand van wilde diere teen hulle loslaat met die gif van stofkruipers.
25Buitekant sal die swaard beroof, en in die binnekamers die verskrikking; die jongman sowel as die jongedogter, die suigling saam met die grysaard.
26Ek sou gesê het: Ek wil hulle wegblaas, hulle gedagtenis onder die mense uitroei —
27as Ek nie vir die terging van die vyand bedug was nie, dat hulle teëstanders dit sou misverstaan en sê: Ons hand was hoog, en die Here het dit alles nie gedoen nie.
28Want 'n nasie van verlore raadsplanne is hulle, en daar is geen verstand in hulle nie.
29 Was hulle wys, hulle sou dit insien, hulle sou op hulle einde let.
30Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tienduisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul Steenrots hulle verkoop en die Here hulle oorgelewer het nie!
31Want hulle steenrots is nie soos ons Steenrots nie — ja, ons vyande self is skeidsregters!
32Want hulle wingerdstok is uit die wingerdstok van Sodom en uit die wingerde van Gomorra; hulle druiwe is giftige druiwe, bitter trosse dra hulle.
33Hulle wyn is slanggif en wrede addergif.
34Is dit nie by My opgegaar, in my skatkamers verseël nie?
35 My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle voet sal wankel; want die dag van hulle ondergang is naby, en wat oor hulle beskik is, kom gou.
36 Want die Here sal aan sy volk reg verskaf, en Hy sal medelyde hê met sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.
37Dan sal Hy sê: Waar is hulle gode, die steenrots waarin hulle toevlug geneem het,
38wat die vet van hulle slagoffers geëet het, die wyn van hulle drankoffer gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, dat daar oor julle 'n beskerming kan wees!
39Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.
40Want Ek sal my hand na die hemel ophef en sê: So waar as Ek ewig leef —
41as Ek my glinsterende swaard skerp gemaak het en my hand na die strafgerig gryp, sal Ek wraak oefen op my teëstanders en my haters vergelde.
42Ek sal my pyle dronk maak van bloed, en my swaard sal vlees eet: van die bloed van hom wat verslaan en gevang is, van die kop van die vyand se aanvoerders.
43Jubel, o nasies, oor sy volk, want Hy sal die bloed van sy knegte wreek, en Hy sal wraak oefen op sy teëstanders en versoening doen vir sy land en sy volk.
44En Moses het gekom en al die woorde van hierdie lied voor die ore van die volk gespreek, hy en Hoséa, die seun van Nun.
45En toe Moses met al hierdie woorde die hele Israel klaar toegespreek het,
46sê hy vir hulle: Gee ag op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, dat julle dit jul kinders beveel om al die woorde van hierdie wet sorgvuldig te hou.
47Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe; en deur hierdie woord sal julle die dae verleng in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.
48Daarna het die Here op daardie selfde dag met Moses gespreek en gesê:
49Klim op hierdie gebergte Abárim, die berg Nebo, wat in die land Moab is, wat teenoor Jérigo lê, en aanskou die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel as besitting sal gee;
50en sterwe op die berg waarheen jy opklim, en word versamel by jou volksgenote, soos jou broer Aäron gesterf het op die berg Hor en versamel is by sy volksgenote,
51 omdat julle onder die kinders van Israel ontrou teen My gehandel het by die twiswater van Kades, in die woestyn Sin, omdat julle My nie geheilig het onder die kinders van Israel nie.
52 Want reg voor sal jy die land sien, maar jy sal daar nie inkom, in die land wat Ek aan die kinders van Israel sal gee nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid