DEUTERONÓMIUM 20

20
Oorlogswette.
1AS jy na die oorlog uittrek teen jou vyand en perde en strydwaens sien, 'n volk meer in getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie; want die Here jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het, is met jou.
2En as julle na die geveg kom, moet die priester nader kom en die volk toespreek;
3en hy moet aan hulle sê: Hoor, Israel, julle trek vandag nader om te veg teen julle vyande; laat julle hart nie week word nie, wees nie bevrees en beangs en word nie verskrik vir hulle nie;
4want dit is die Here julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee.
5Dan moet die opsigters die volk toespreek en sê: Wie is die man wat 'n nuwe huis gebou en dit nie ingewy het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit inwy nie.
6En wie is die man wat 'n wingerd geplant en dit nie in gebruik geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit in gebruik neem nie.
7 En wie is die man wat hom met 'n vrou verloof en haar nie geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders haar neem nie.
8Dan moet die opsigters verder die volk toespreek en sê: Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie.
9En as die opsigters die volk klaar toegespreek het, moet leërowerstes aan die hoof van die volk aangestel word.
10As jy naby 'n stad kom om daarteen te veg, moet jy dit vrede aanbied.
11En as dit jou 'n antwoord van vrede gee en vir jou oopmaak, moet die hele volk wat daarin gevind word, aan jou dienspligtig wees en jou dien.
12Maar as dit geen vrede met jou sluit nie, maar oorlog teen jou wil voer, moet jy dit beleër.
13En die Here jou God sal dit in jou hand gee, en jy moet al die manne daarin met die skerpte van die swaard verslaan;
14net die vroue en die kinders en die vee en alles wat in die stad is — die hele buit moet jy vir jou roof; en jy moet die buit van jou vyande eet wat die Here jou God jou gegee het.
15So moet jy met al die stede maak wat baie ver van jou af is, wat nie by die stede van hierdie nasies behoort nie.
16Maar van die stede van hierdie volke wat die Here jou God jou as erfenis sal gee, moet jy niks wat asem het, laat lewe nie.
17Maar jy moet hulle heeltemal met die banvloek tref: die Hetiete en Amoriete, die Kanaäniete en Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, soos die Here jou God jou beveel het;
18sodat hulle julle nie leer om te handel volgens al hulle gruwels wat hulle vir hul gode gedoen het, en julle teen die Here julle God sondig nie.
19As jy 'n stad baie lank beleër deur oorlog daarteen te voer om dit te verower, moet jy sy bome nie verwoes deur die byl daarteen te swaai nie; maar jy mag daarvan eet en mag dit nie afkap nie; want is die bome van die veld dan mense, dat hulle deur jou in beleëring moet kom?
20Net bome waarvan jy weet dat dit geen vrugtebome is nie, dié mag jy verwoes en afkap; en jy moet teen die stad wat teen jou oorlog voer, 'n skans bou totdat dit val.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid