DANIËL 4

4
Bevelskrif van Nebukadnésar. Sy droom van die groot boom. Sy kranksinnigheid.
1KONING Nebukadnésar aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon: Mag julle vrede groot wees!
2Dit behaag my om die tekens en wonders wat die allerhoogste God aan my gedoen het, te verkondig.
3Hoe groot is sy tekens, en hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag!
4Ek, Nebukadnésar, het rustig in my huis gelewe en was voorspoedig in my paleis.
5Ek het 'n droomgesig gesien wat my verskrik het — droombeelde op my bed en die gesigte van my hoof het my verontrus.
6 Daarop is deur my bevel gegee om al die wyse manne van Babel voor my te bring, dat hulle my die uitlegging van die droom bekend kan maak.
7Toe het die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers gekom, en ek het hulle die droom vertel, maar hulle het sy uitlegging my nie bekend gemaak nie;
8totdat eindelik Daniël voor my ingekom het, wie se naam Béltsasar is, na die naam van my god, en in wie die gees van die heilige gode is; en ek het hom die droom vertel:
9Béltsasar, owerste van die geleerdes, van wie ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en dat geen enkele geheim jou kwel nie, vertel my die droomgesigte wat ek gesien het, naamlik die uitlegging daarvan.
10Wat nou die gesigte van my hoof op my bed betref — ek het gesien, en kyk, daar was 'n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was groot.
11Die boom het groot geword en sterk, en sy hoogte het tot aan die hemel gereik, sodat hy tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was.
12Sy blare was mooi en sy vrugte baie, en aan hom was vir alles voedsel; onder hom het die diere van die veld skaduwee gesoek, en in sy takke het die voëls van die hemel gewoon, ja, alle vlees is daardeur gevoed.
13Ek het in die gesigte van my hoof op my bed gesien, en kyk, 'n bode, naamlik 'n heilige, het uit die hemel neergedaal;
14hy het hardop geroep en só gesê: Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke.
15Maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met 'n band van yster en koper in die groen gras van die veld; en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en saam met die diere deel hê aan die plante van die aarde.
16Laat sy hart anders word as dié van 'n mens en 'n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan.
17Op 'n besluit van die bodes berus die bevel, en 'n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel.
18Dit is die droomgesig wat ek, koning Nebukadnésar, gehad het; en jy, Béltsasar, sê my die uitlegging, omdat al die wyse manne van my koninkryk my die uitlegging nie kon bekend maak nie; maar jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou.
19Toe het Daniël, wie se naam Béltsasar was, 'n oomblik verstom gestaan en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning het daarop gespreek en gesê: Béltsasar, laat die droom en die uitlegging jou nie verskrik nie. Béltsasar het geantwoord en gesê: My heer, mag die droom u haters en sy uitlegging u teëstanders oorkom.
20 Die boom wat u gesien het — wat groot en sterk geword het, en waarvan die hoogte tot aan die hemel gereik het en wat vir die hele aarde sigbaar was,
21en waarvan die blare mooi en die vrugte baie gewees het, en waar voedsel vir alles aan was, waaronder die diere van die veld gehou en in die takke waarvan die voëls van die hemel gewoon het —
22dit is u, o koning, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde.
23En dat die koning 'n bode, naamlik 'n heilige, uit die hemel sien neerdaal het met die woorde: Kap die boom om en verwoes hom, maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met 'n band van yster en koper in die groen gras van die veld, en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en sy lot saam met die diere van die veld wees totdat sewe tydperke oor hom heengegaan het —
24dit is die uitlegging, o koning, en dit is die besluit van die Allerhoogste wat oor my heer die koning kom:
25 Hulle sal u uit die mensdom verstoot, en u woning sal saam met die diere van die veld wees, en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.
26En dat hulle bevel gegee het om die penwortel van die boom te laat staan — u koningskap sal vir u bestendig wees vandat u erken het dat die hemel heers.
27Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees.
28Dit alles het oor koning Nebukadnésar gekom.
29Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel,
30 het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot 'n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?
31Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar 'n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê — die koningskap word jou ontneem;
32en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.
33 Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadnésar — hy is uit die mensdom verstoot en het plante geëet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls.
34En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy 'n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is.
35En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?
36In dié tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my koningskap betref — my majesteit en my glans het in my teruggekeer, en my raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel, en buitengewone grootheid is my toegevoeg.
37Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.

Tans Gekies:

DANIËL 4: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid