II SAMUEL 5:17-25

II SAMUEL 5:17-25 AFR53

Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf was, het al die Filistyne opgetrek om Dawid te soek, maar Dawid het dit gehoor en afgetrek na die bergvesting. En die Filistyne het gekom en hulle versprei in die dal Refáim. Toe het Dawid die HERE geraadpleeg en gesê: Sal ek optrek teen die Filistyne? Sal U hulle in my hand gee? En die HERE het aan Dawid gesê: Trek op, want Ek sal die Filistyne verseker in jou hand gee. Daarop het Dawid na Baäl-Pérasim gegaan, en Dawid het hulle daar verslaan en gesê: Die HERE het voor my heen deur my vyande gebreek soos water deurbreek; daarom het hy dié plek Baäl-Pérasim genoem. En hulle het hul afgode daar agtergelaat, en Dawid en sy manne het dit saamgeneem. Maar die Filistyne het nog weer opgetrek en hulle in die dal Refáim versprei. Toe raadpleeg Dawid die HERE, en Hy sê: Jy moet nie optrek nie: trek agter hulle om en val hulle aan vlak voor die balsembosse. En as jy 'n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse hoor, moet jy gou maak, want dan het die HERE voor jou uitgetrek om die leër van die Filistyne te verslaan. En Dawid het gedoen net soos die HERE hom beveel het, en hy het die Filistyne verslaan van Gíbeon af tot naby Geser.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid