II KONINGS 17

17
Hoséa die laaste koning van Israel. Salmanéser neem Samaría in en voer die tien stamme in ballingskap weg.
1IN die twaalfde jaar van Agas, die koning van Juda, het Hoséa, die seun van Ela, in Samaría oor Israel koning geword — nege jaar lank.
2En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, maar nie soos die konings van Israel wat voor hom was nie.
3Teen hom het Salmanéser, die koning van Assirië, opgetrek, en Hoséa het sy dienaar geword en aan hom belasting betaal.
4Maar die koning van Assirië het by Hoséa 'n sameswering ontdek, dat hy boodskappers gestuur het na So, die koning van Egipte, en nie aan die koning van Assirië belasting betaal het soos jaar vir jaar nie; daarom het die koning van Assirië hom opgesluit en hom in die gevangenis laat bind.
5En die koning van Assirië het opgetrek deur die hele land en opgetrek na Samaría en dit drie jaar lank beleër.
6 In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaría ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat woon in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië.
7Want die kinders van Israel het gesondig teen die Here hulle God wat hulle uit Egipteland onder die hand van Farao uit, die koning van Egipte, laat optrek het; en hulle het ander gode gevrees
8en gewandel volgens die insettinge van die nasies wat die Here voor die kinders van Israel uit verdryf het, en van die konings van Israel wat dit bewerk het.
9En die kinders van Israel het heimlik volbring wat nie reg was teenoor die Here hulle God nie; en hulle het vir hul hoogtes gebou in al hulle stede, van wagtoring af tot versterkte stad.
10 En hulle het vir hul klippilare en heilige boomstamme opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.
11En hulle het daar offerrook laat opgaan, op al die hoogtes, soos die nasies wat die Here voor hulle uit weggevoer het, en verkeerde dinge gedoen om die Here te terg.
12En hulle het die drekgode gedien waarvan die Here vir hulle gesê het: Julle mag dit nie doen nie.
13En die Here het Israel en Juda gewaarsku deur die diens van elke profeet en elke siener en gesê: Bekeer julle van jul verkeerde weë en onderhou my gebooie, my insettinge, volgens die hele wet wat Ek julle vaders beveel het, en wat Ek deur die diens van my diensknegte, die profete, vir julle gestuur het.
14Maar hulle het nie geluister nie en hul nek verhard soos die nek van hul vaders wat nie op die Here hulle God vertrou het nie.
15En hulle het sy insettinge en sy verbond verwerp wat Hy met hulle vaders gesluit het, en sy getuienisse waarmee Hy hulle gewaarsku het, en agter nietige afgode aan geloop en self nietig geword, en agter die nasies aan wat rondom hulle was, van wie die Here hulle beveel het om nie soos hulle te maak nie.
16En hulle het al die gebooie van die Here hulle God verlaat en vir hulle gegote beelde, twee kalwers, gemaak, ja, 'n heilige boomstam gemaak en gebuig voor die hele leër van die hemel en Baäl gedien.
17En hulle het hul seuns en hul dogters deur die vuur laat deurgaan en met waarsêery omgegaan en voortekens verklaar en hulleself verkoop om te doen wat verkeerd was in die oë van die Here, om Hom te terg.
18So het die Here dan baie toornig op Israel geword, sodat Hy hulle van sy aangesig verwyder het; niks het oorgebly nie as net die stam van Juda alleen.
19Selfs Juda het die gebooie van die Here hulle God nie gehou nie, maar gewandel in die insettinge van Israel wat hulle gemaak het.
20Daarom het die Here die hele geslag van Israel verwerp en hulle verneder en hulle in die hand van rowers oorgegee totdat Hy hulle van sy aangesig weggewerp het.
21Want Hy het Israel van die huis van Dawid afgeskeur, en hulle het Jeróbeam, die seun van Nebat, koning gemaak; en Jeróbeam het Israel agter die Here weggetrek en hulle 'n groot sonde laat doen.
22En die kinders van Israel het gewandel in al die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het, hulle het daar nie van afgewyk nie;
23totdat die Here Israel van sy aangesig verwyder het soos Hy gespreek het deur al sy diensknegte, die profete; en Israel is in ballingskap uit sy land weggevoer na Assirië, tot vandag toe.
Die gebied van Israel word met afgodsdienaars bevolk.
24EN die koning van Assirië het uit Babel en uit Kuta en uit Awa en uit Hamat en Sefarváim mense ingevoer en laat woon in die stede van Samaría, in die plek van die kinders van Israel: hulle het Samaría in besit geneem en in sy stede gaan woon.
25En in die begin van hulle vestiging daar het hulle die Here nie gevrees nie. Toe stuur die Here leeus onder hulle, en dié het onder hulle sommige gedood.
26Daarna het hulle aan die koning van Assirië gesê: Die nasies wat u weggevoer en in die stede van Samaría laat woon het, ken nie die verpligting teenoor die God van die land nie; daarom het Hy leeus onder hulle gestuur, en kyk, dié maak hulle dood, omdat hulle die verpligting teenoor die God van die land nie ken nie.
27Toe gee die koning van Assirië bevel en sê: Bring een van die priesters daarheen wat julle daarvandaan weggevoer het, dat hulle daar kan gaan woon en dat hy hulle die verpligting teenoor die God van die land kan leer.
28En een van die priesters wat uit Samaría weggevoer is, het gekom en hom in Bet-el gevestig en hulle geleer hoe hulle die Here moet vrees.
29Maar hulle het, elke nasie, sy eie god gemaak en in die tempels van die hoogtes opgestel wat die Samaritane gebou het; elke nasie in hul stede waarin hulle woonagtig was:
30die manne van Babel het Sukkot-Benot gemaak, en die manne van Kut het Nergal gemaak, en die manne van Hamat het Asíma gemaak,
31en die Awiete het Nibhas en Tartak gemaak. En die Sefarviete het hulle seuns vir Adramméleg en Anamméleg, die gode van Sefarváim, in die vuur verbrand.
32Hulle het die Here ook gevrees en vir hulle priesters van die hoogtes uit al hul stande aangestel, wat vir hulle in die tempels van die hoogtes diens doen.
33 Hulle het die Here gevrees en hulle eie gode gedien volgens die gebruik van die nasies waar hulle vandaan weggevoer is.
34Tot vandag toe handel hulle volgens die vroeëre gebruike: hulle vrees die Here nie, en handel ook nie volgens hulle insettinge en volgens hulle gebruike nie, of volgens die wet en volgens die gebod wat die Here die kinders van Jakob beveel het, aan wie Hy die naam Israel gegee het.
35Tog het die Here met hulle 'n verbond gesluit en hulle bevel gegee en gesê: Julle mag geen ander gode vrees of julle voor hulle neerbuig of hulle dien of aan hulle offer nie.
36Maar die Here wat julle uit Egipteland laat optrek het met groot krag en met 'n uitgestrekte arm, Hom moet julle vrees en voor Hom buig en aan Hom offer.
37En die insettinge en die verordeninge en die wet en die gebod wat Hy julle voorgeskrywe het, moet julle altyd sorgvuldig onderhou, maar ander gode mag julle nie vrees nie.
38En die verbond wat Ek met julle gesluit het, mag julle nie vergeet nie, en julle mag ander gode nie vrees nie.
39Maar die Here julle God moet julle vrees, en Hý sal julle verlos uit die hand van al julle vyande.
40Hulle het egter nie geluister nie en volgens hul vroeër gebruik gehandel.
41 So het hierdie nasies dan die Here gevrees en hulle gesnede beelde gedien; ook hulle kinders en hulle kindskinders doen soos hulle vaders gedoen het, tot vandag toe.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid