II KONINGS 13

13
Jóahas en Joas konings van Israel.
1IN die drie-en-twintigste jaar van Joas, die seun van Ahásia, die koning van Juda, het Jóahas, die seun van Jehu, koning geword oor Israel in Samaría — sewentien jaar lank.
2En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en agter die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het, aan geloop; hy het daar nie van afgewyk nie.
3Daarom het die toorn van die Here teen Israel ontvlam, sodat Hy hulle oorgegee het in die hand van Hásael, die koning van Aram, en in die hand van Bénhadad, die seun van Hásael, al die dae.
4Maar Jóahas het die aangesig van die Here om genade gesmeek. Toe verhoor die Here hom, want Hy het die verdrukking van Israel gesien, dat die koning van Aram hulle verdruk.
5(Die Here het aan Israel 'n verlosser gegee, sodat hulle onder die mag van Aram uitgekom het en die kinders van Israel in hul tente kon woon soos gister en eergister.
6Nogtans het hulle nie afgewyk van die sondes van die huis van Jeróbeam wat Israel laat sondig het nie; hy het daarin gewandel, en selfs die heilige boomstam het in Samaría bly staan.)
7Voorwaar, hy het vir Jóahas geen manskappe laat oorbly nie, as net vyftig perderuiters en tien strydwaens en tienduisend voetgangers; want die koning van Aram het hulle omgebring en hulle gemaak soos stof as gedors word.
8En die verdere geskiedenis van Jóahas en alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
9En Jóahas het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe, en sy seun Joas het in sy plek koning geword.
10In die sewen-en-dertigste jaar van Joas, die koning van Juda, het Joas, die seun van Jóahas, koning geword oor Israel in Samaría — sestien jaar lank.
11En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here; hy het nie afgewyk van al die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie; hy het daarin gewandel.
12En die verdere geskiedenis van Joas en alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy teen Amásia, die koning van Juda, geveg het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
13En Joas het ontslaap met sy vaders, en Jeróbeam het op sy troon gaan sit; en Joas is begrawe in Samaría by die konings van Israel.
Dood van Elísa.
14EN toe Elísa siek was aan die siekte waaraan hy sou sterwe, het Joas, die koning van Israel, afgekom na hom en oor hom geween en gesê: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!
15Daarop sê Elísa vir hom: Neem 'n boog en pyle. En hy het vir hom 'n boog en pyle geneem.
16En hy sê vir die koning van Israel: Sit jou hand aan die boog. En hy het sy hand aan die boog gesit; en Elísa het sy hande op die hande van die koning gelê.
17Verder sê hy: Maak oop die venster na die ooste toe! En hy het dit oopgemaak. En Elísa sê: Skiet! En hy het geskiet. Toe sê hy: 'n Pyl van oorwinning van die Here en 'n pyl van oorwinning op Aram: jy moet die Arameërs volkome verslaan in Afek.
18Verder sê hy: Neem die pyle. En hy het dit geneem. Toe sê hy vir die koning van Israel: Slaan teen die grond! En hy het drie maal geslaan en opgehou.
19Daarop word die man van God baie kwaad vir hom en sê: Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs volkome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan.
20Daarna het Elísa gesterwe, en hulle het hom begrawe. En die bendes van die Moabiete het die land ingekom met die ingang van die jaar.
21En terwyl hulle besig was om 'n man te begrawe, sien hulle meteens die bende; daarom het hulle die man in die graf van Elísa gegooi; en toe die man met die gebeente van Elísa in aanraking kom, het hy lewendig geword en opgestaan op sy voete.
22En Hásael, die koning van Aram, het Israel verdruk al die dae van Jóahas.
23Maar die Here was hulle genadig en het Hom oor hulle ontferm en Hom tot hulle gewend ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob; en Hy wou hulle nie vernietig en tot nog toe nie van sy aangesig wegwerp nie.
24En Hásael, die koning van Aram, het gesterwe; en sy seun Bénhadad het in sy plek koning geword.
25En Joas, die seun van Jóahas, het weer die stede uit die hand van Bénhadad, die seun van Hásael, teruggeneem wat hy aan sy vader Jóahas in die oorlog ontruk het; Joas het hom drie maal verslaan en die stede van Israel herower.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid