II KRONIEKE 29

29
Hiskía, koning van Juda, reinig die tempel.
1JEHISKÍA het, vyf-en-twintig jaar oud, koning geword en negen-en-twintig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Abía, die dogter van Sagaría.
2En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here net soos sy vader Dawid gedoen het.
3Hý het in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maand, die deure van die huis van die Here oopgemaak en dit herstel,
4en die priesters en die Leviete laat inkom en hulle versamel op die Oosplein
5en vir hulle gesê: Luister na my, Leviete! Heilig julle nou, en heilig die huis van die Here, die God van julle vaders, en bring die onreinheid uit die heiligdom uit;
6want ons vaders het ontrou gehandel en gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here onse God, en hulle het Hom verlaat en hulle aangesig van die tabernakel van die Here afgewend en dit die rug toegekeer.
7Ook het hulle die deure van die voorportaal toegesluit en die lampe doodgeblaas en geen reukwerk aan die brand gesteek en geen brandoffer in die heiligdom aan die God van Israel gebring nie.
8Daarom het 'n toorn van die Here oor Juda en Jerusalem gekom, en Hy het hulle 'n skrikbeeld, 'n voorwerp van verbasing en van bespotting gemaak, soos julle met jul eie oë sien.
9En kyk, hierom het ons vaders deur die swaard geval en is ons seuns en ons dogters en ons vroue in gevangenskap.
10Nou is dit in my hart om 'n verbond te sluit met die Here, die God van Israel, dat sy toorngloed van ons afgewend kan word.
11My seuns, wees nou nie nalatig nie, want die Here het julle verkies om voor sy aangesig te staan, om Hom te dien en sy dienaars te wees en offerrook te laat opgaan.
12Die Leviete het hulle toe klaargemaak: Mahat, die seun van Amásai, en Joël, die seun van Asárja, uit die kinders van die Kehatiete; en uit die kinders van Merári: Kis, die seun van Abdi, en Asárja, die seun van Jehállelel; en uit die Gersoniete: Joag, die seun van Simma, en Eden, die seun van Joag;
13en uit die kinders van Elísafan: Simri en Jeï-el; en uit die kinders van Asaf: Sagaría en Mattánja;
14en uit die kinders van Heman: Jéhiël en Símeï; en uit die kinders van Jedútun: Semája en Ússiël.
15En hulle het hul broers versamel en hulle geheilig en ingekom om volgens die bevel van die koning, ooreenkomstig die woorde van die Here, die huis van die Here te reinig.
16En die priesters het binne-in die huis van die Here ingegaan om dit te reinig en al die onreinheid wat hulle in die tempel van die Here gevind het, uitgebring in die voorhof van die huis van die Here, en die Leviete het dit in ontvangs geneem om dit uit te bring na buite, na die spruit Kidron.
17En hulle het begin om te heilig op die eerste van die eerste maand en op die agtste dag van die maand by die voorportaal van die Here gekom en die huis van die Here binne agt dae geheilig; en op die sestiende dag van die eerste maand was hulle gereed.
18Toe kom hulle by koning Hiskía in en sê: Ons het die hele huis van die Here gereinig — die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die tafel vir die toonbrode met al sy gereedskap;
19ook al die gereedskap wat koning Agas tydens sy regering deur sy ontrou ontheilig het, het ons weer reggesit en geheilig, en kyk, daar is dit voor die altaar van die Here.
20Daarop maak koning Jehiskía hom vroeg klaar en laat die owerstes van die stad bymekaarkom, en hy het opgegaan na die huis van die Here.
21En hulle het sewe bulle en sewe ramme en sewe lammers en sewe bokke as 'n sondoffer vir die koningskap en vir die heiligdom en vir Juda gebring; en hy het aan die seuns van Aäron, die priesters, gesê om dit op die altaar van die Here te offer.
22Toe het hulle die beeste geslag, en die priesters het die bloed opgevang en dit teen die altaar uitgegooi, en die ramme geslag en die bloed teen die altaar uitgegooi, en die lammers geslag en die bloed teen die altaar uitgegooi.
23Daarna het hulle die sondofferbokke nader gebring voor die koning en die vergadering, en hulle het hul hande daarop gelê.
24En die priesters het hulle geslag en die bloed daarvan as sondoffer teen die altaar uitgegooi om versoening te doen vir die hele Israel; want die koning het die brandoffer en die sondoffer vir die hele Israel beveel.
25En hy het die Leviete opgestel by die huis van die Here met simbale, met harpe en siters volgens die gebod van Dawid en van Gad, die siener van die koning, en van die profeet Natan; want die Here het dit so beveel deur die diens van sy profete.
26En die Leviete het gaan staan met die instrumente van Dawid, en die priesters met die trompette.
27En Hiskía het bevel gegee om die brandoffer op die altaar te offer; en net toe die brandoffer begin, het ook die gesang tot eer van die Here en die trompette begin, en dit onder begeleiding van die instrumente van Dawid, die koning van Israel.
28En die hele vergadering het hulle neergebuig, en die gesang het weerklink en die trompette geblaas — dit alles totdat die brandoffer verby was.
29En toe hulle klaar was met offer, het die koning en almal wat by hom aanwesig was, gekniel en hulle neergebuig.
30Daarop gee koning Jehiskía en die owerstes aan die Leviete bevel om die Here te prys met die woorde van Dawid en van Asaf, die siener; en hulle het met blydskap die lofsang aangehef en gebuig en aanbid.
31En Jehiskía het begin sê: Nou het julle jul aan die Here gewy; kom aan en bring die slagoffers en die lofoffers na die huis van die Here. Die vergadering het toe slagoffers en lofoffers gebring, en elkeen wat gewillig van hart was, brandoffers.
32En die getal van die brandoffers wat die vergadering gebring het, was sewentig beeste, honderd ramme, tweehonderd lammers; dit alles as 'n brandoffer aan die Here.
33En die heilige gawes was seshonderd beeste en drieduisend stuks kleinvee.
34Net die priesters was te min en kon nie al die brandoffers afslag nie; maar hulle broers, die Leviete, het hulle ondersteun, totdat die werk klaar was en totdat die priesters hulleself geheilig het; want die Leviete was opregter van hart om hulleself te heilig as die priesters.
35En ook was daar brandoffers in menigte, met die vetstukke van die dankoffers en met die drankoffers vir die brandoffer. So is dan die diens in die huis van die Here gereël.
36En Jehiskía en die hele volk was bly oor wat God vir die volk berei het; want dit het gou gegaan.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid