II KRONIEKE 2

2
Ooreenkoms van Salomo met Huram en ander toebereidsels vir die bou van die tempel.
1EN Salomo het gedink om vir die Naam van die Here 'n huis te bou en 'n huis vir sy koningskap.
2En Salomo het sewentigduisend lasdraers afgetel en tagtigduisend klipkappers op die gebergte en drieduisend-seshonderd opsigters oor hulle.
3 Toe laat Salomo Huram, die koning van Tirus, weet: Soos u aan my vader Dawid gedoen het deur aan hom seders te stuur, dat hy vir hom 'n huis kon bou om in te woon, doen dit ook aan my.
4Kyk, ek gaan 'n huis bou vir die Naam van die Here my God, om dit aan Hom te heilig — om voor sy aangesig reukwerk van speserye aan die brand te steek en die toonbrode gedurig reg te sit en die brandoffers smôrens en saans te bring op die sabbatte en op die nuwemane en op die feestye van die Here onse God — 'n ewige verpligting op Israel.
5En die huis wat ek gaan bou, sal groot wees; want onse God is groter as al die gode.
6Maar wie is in staat om vir Hom 'n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom 'n huis kan bou, behalwe om voor sy aangesig offers aan die brand te steek?
7Stuur my dan nou 'n kunsvaardige man om goud en silwer en koper en yster en purperrooi en bloedrooi en pers stowwe te bewerk, en wat verstaan om figure uit te sny saam met die kunstenaars wat by my in Juda en in Jerusalem is, wat my vader Dawid bestel het.
8Stuur ook aan my seder-, sipres- en sandelhout van die Líbanon af, want ek weet dat u dienaars verstaan om die hout van die Líbanon te kap; en kyk, my dienaars sal saam met u dienaars wees,
9naamlik om hout in menigte vir my gereed te maak, want die huis wat ek gaan bou, sal groot en wonderbaar wees.
10En kyk, ek gee as voedsel aan die houtkappers wat die bome kap, aan u dienaars, twintigduisend kor koring en twintigduisend kor gars en twintigduisend bat wyn en twintigduisend bat olie.
11En Huram, die koning van Tirus, het in 'n brief gesê wat hy aan Salomo gestuur het: Omdat die Here sy volk liefhet, het Hy u as koning oor hulle aangestel.
12Verder het Huram gesê: Geloofd sy die Here, die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het, wat aan koning Dawid 'n wyse seun gegee het, begaafd met insig en verstand, om 'n huis vir die Here en 'n huis vir sy koninkryk te bou.
13Ek stuur dan nou 'n kunstenaar, begaafd met verstand, naamlik Huram Abi,
14 die seun van 'n vrou uit die dogters van Dan, maar wie se vader 'n man van Tirus is, wat verstaan om goud en silwer, koper, yster, klippe en hout, purperrooi, pers stowwe en fyn linne en bloedrooi stowwe te bewerk; en om allerhande figure uit te sny en om enige kunstige plan uit te dink wat aan hom opgedra word, saam met u kunstenaars en die kunstenaars van my heer, u vader Dawid.
15Laat my heer dan nou die koring en die gars, die olie en die wyn wat hy gesê het, aan sy dienaars stuur.
16En óns sal bome uit die Líbanon kap net soveel as u nodig het, en ons sal dit vir u as vlotte oor die see na Jafo bring; dan kan ú dit na Jerusalem laat vervoer.
17En Salomo het al die uitlanders getel wat in die land van Israel was, volgens die telling wat sy vader Dawid van hulle gehou het, en dit het geblyk dat daar honderd-drie-en-vyftigduisend-seshonderd was.
18En sewentigduisend van hulle het hy lasdraers gemaak en tagtigduisend klipkappers op die gebergte en drieduisend-seshonderd opsigters om die mense te laat werk.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid