I KONINGS 7

7
Bou van Salomo se paleis.
1MAAR aan sy huis het Salomo dertien jaar gebou en die hele huis voltooi.
2Hy het naamlik die huis van die Líbanon-bos gebou, honderd el in sy lengte en vyftig el in sy breedte en dertig el in sy hoogte, op vier rye sederpilare en sederbalke op die pilare.
3En dit was van bo oordek met sederhout, op die verdiepings wat rus op die pilare, vyf-en-veertig bovertrekke, vyftien in 'n ry.
4En daar was drie rye vensters van latwerk; en oop venster teenoor oop venster, drie maal.
5En al die deure met die vensters was vierkantig van houtwerk, en venster was teenoor venster, drie maal.
6En die pilare-voorhuis het hy gemaak, vyftig el in sy lengte en dertig el in sy breedte, met 'n voorportaal daarvoor, naamlik pilare en 'n afdak daaroor.
7Verder het hy die troonsaal gemaak waar hy reggespreek het, die regsaal, en dit was bedek met sederhout van vloer tot vloer.
8Ook sy huis waar hy gewoon het, in die ander voorhof, van die saal af binnekant toe, was van dieselfde maaksel; en hy het vir die dogter van Farao wat Salomo geneem het, 'n huis gemaak soos hierdie saal.
9Dit was alles van kosbare klippe, volgens die maat van gekapte klip, aan die binne- en buitekant met die saag bewerk, naamlik van die fondament af tot by die muurplate, en van die buitekant af tot by die groot voorhof.
10En die fondament was van kosbare klippe, groot klippe, klippe van tien el en klippe van agt el.
11En daar bo-op was kosbare klippe, volgens die maat van gekapte klip, en sederhout.
12En die groot voorhof was rondom van drie lae gekapte klip en 'n laag sederbalke, net soos by die binneste voorhof van die huis van die Here en by die saal van die paleis.
13En koning Salomo het Hiram uit Tirus laat haal.
14Hy was die seun van 'n weduvrou uit die stam van Náftali, en sy vader was 'n man van Tirus, 'n kopersmid; en hy was vol wysheid en verstand en kennis om allerhande werk in koper te maak. Hy het toe by koning Salomo gekom en al sy werk uitgevoer.
Die tempelgereedskap en -versiersels.
15HY het naamlik die twee pilare van koper gevorm; agttien el was die hoogte van die een pilaar, en 'n lyn van twaalf el kon die tweede pilaar omspan.
16En hy het twee kapitele gemaak om op die toppe van die pilare te sit, gietwerk van koper; vyf el was die hoogte van die een kapiteel, en vyf el was die hoogte van die ander kapiteel.
17Daar was vlegwerke — die maaksel van die vlegwerk was gedraaide drade, 'n maaksel van kettinkies — vir die kapitele op die top van die pilare; sewe vir die een kapiteel en sewe vir die ander kapiteel.
18Verder het hy die granaatjies gemaak, naamlik twee rye rondom oor die een vlegwerk, om die kapitele op die top van die pilare te bedek; en net so het hy vir die ander kapiteel gemaak.
19En die kapitele op die top van die pilare aan die voorportaal was vier el, lelievormig,
20naamlik die kapitele op die twee pilare bo-aan, verby die vlegwerk wat vlak op die bol was. En die granaatjies was tweehonderd, in rye rondom, ook oor die tweede kapiteel.
21En hy het die pilare opgerig by die voorportaal van die hoofvertrek. Toe hy die regterpilaar opgerig het, noem hy dit Jagin; en toe hy die linkerpilaar opgerig het, noem hy dit Boas.
22Toe die leliewerk op die top van die pilare was, was die werk aan die pilare voltooi.
23Verder het hy die see gemaak van gietwerk; van rand tot rand was tien el, heeltemal rond; en die hoogte daarvan was vyf el, en 'n lyn van dertig el kon dit rondom omspan.
24En kolokwinte onder die rand daarvan het dit rondom omring; tien op die el het hulle die see rondom omring: twee rye kolokwinte wat aan die gietwerk daarvan vasgegiet is.
25Dit het gestaan op twaalf beeste: drie kyk na die noorde, en drie kyk na die weste, en drie kyk na die suide, en drie kyk na die ooste toe, terwyl die see bo-op hulle was, en al hulle agterdele was binnekant toe.
26En die dikte daarvan was 'n handbreed, en sy rand was in die vorm van 'n bekerrand, soos 'n lelieblom; dit het tweeduisend bat gehou.
27Hy het ook die tien afspoelwaentjies van koper gemaak; die lengte van elke afspoelwaentjie was vier el, en vier el sy breedte en drie el sy hoogte.
28En dit was die maaksel van die bak: dit het sluitplate gehad, naamlik sluitplate tussen die sporte;
29en op die sluitplate tussen die sporte was leeus, beeste en gérubs; en net so op die sporte; bokant en onderkant die leeus en beeste was afhangende kransversierings.
30En elke afspoelwaentjie het vier koperwiele en koperasse gehad, en sy vier hoekstyle het skouerstukke gehad; onder teen die wasbak was die skouerstukke vasgegiet; teenoor elkeen was kranse.
31En die opening daarvan was binnekant die kraag, en boontoe een el; en die opening daarvan was rond, in die vorm van 'n voetstuk, anderhalf el; en ook die opening daarvan was graveerwerk, maar die sluitplate daarvan was vierkantig, nie rond nie.
32En die vier wiele was onder die sluitplate, en die kloue van die wiele was in die bak, terwyl die hoogte van elke wiel anderhalf el was.
33En die maaksel van die wiele was in die vorm van 'n wawiel; die kloue en die vellings en die speke en die nawe daarvan was alles gietwerk.
34En vier skouerstukke was aan die vier hoeke van elke afspoelwaentjie; die skouerstukke daarvan was met die bak saam uit een stuk.
35En bo-aan die afspoelwaentjie was daar 'n kraag van 'n half-el hoog, heeltemal rond; en bo-op die bak was die kloue en sluitplate daarvan, daarmee saam uit een stuk.
36En hy het op die vlakke van die kloue en sluitplate daarvan gérubs, leeus en palmbome gegraveer volgens die ruimte van elkeen, en blomkranse rondom.
37So het hy die tien afspoelwaentjies gemaak: een en dieselfde gietwerk, een maat, een vorm het hulle almal gehad.
38Verder het hy tien koperwaskomme gemaak; elke kom het veertig bat gehou; elke kom was vier el; een kom was op elke bak van die tien afspoelwaentjies.
39Toe het hy die afspoelwaentjies opgestel: vyf aan die suidekant van die huis en vyf aan die noordekant van die huis; maar die see het hy aan die suidekant van die huis opgestel, teen die ooste na die suide toe.
40 Verder het Hiram die potte en die skoppe en die komme gemaak. So het Hiram dan al die werk voleindig wat hy vir koning Salomo in die huis van die Here gedoen het:
41twee pilare met die twee bolle van die kapitele wat op die top van die pilare was, en die twee stukke vlegwerk om die twee bolle van die kapitele op die top van die pilare te oordek;
42en die vierhonderd granaatjies vir die twee stukke vlegwerk: twee rye granaatjies vir elke vlegwerk, om die twee bolle van die kapitele bo-op die pilare te oordek;
43en die tien afspoelwaentjies en die tien waskomme op die afspoelwaentjies;
44en die een see en die twaalf beeste onder die see;
45en die potte en die skoppe en die komme: al hierdie voorwerpe wat Hiram vir koning Salomo in die huis van die Here gemaak het, was van gepolyste koper.
46In die Jordaanstreek waar die grond diep was, tussen Sukkot en Sartan, het die koning dit gegiet.
47En Salomo het al die voorwerpe ongeweeg laat bly vanweë die baie groot menigte; die gewig van die koper is nie bereken nie.
48Verder het Salomo al die voorwerpe wat in die huis van die Here was, gemaak: die goue altaar en die tafel waar die toonbrode op moes lê, van goud;
49en die kandelaars, vyf regs en vyf links, voor die binneste vertrek, van fyn goud; en die blomwerk en die lampe en die snuiters, van goud;
50en die skottels en die messe en die komme en die rookpanne en die vuurpanne, van fyn goud; en die skarniere vir die deure van die binneste vertrek, van die Allerheiligste, en vir die deure van die saal, van die hoofvertrek, van goud.
51En toe al die werk wat koning Salomo in die huis van die Here gemaak het, gereed was, het Salomo die geheiligde gawes van sy vader Dawid ingebring; die silwer en die goud en die voorwerpe het hy in die skatkamers van die huis van die Here neergesit.

Tans Gekies:

I KONINGS 7: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid