I KORINTHIËRS 16

16
Die insameling vir die Christene in Jerusalem.
1WAT die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.
2Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.
3En wanneer ek aangekom het, sal ek die persone wat julle goedkeur, met briewe stuur om julle gawe na Jerusalem te bring.
4En as dit die moeite werd is dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.
Planne van Paulus. Verskillende aanbevelinge. Groete.
5MAAR ek sal na julle kom nadat ek deur Macedónië gereis het, want ek gaan deur Macedónië.
6En moontlik sal ek by julle vertoef of ook oorwinter, sodat julle my kan voorthelp waarheen ek ook al mag reis.
7Want ek wil julle nie nou net in die verbygaan sien nie, maar ek hoop om 'n tyd lank by julle te bly as die Here dit toelaat.
8Maar ek sal in Éfese bly tot Pinkster toe.
9Want 'n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders.
10En as Timótheüs kom, sorg dat hy sonder vrees by julle is, want hy doen die werk van die Here net soos ek.
11 Laat niemand hom dan minag nie, maar help hom verder in vrede, dat hy na my toe kan kom; want ek wag vir hom saam met die broeders.
12Met betrekking tot die broeder Apollos, by hom het ek sterk aangedring om saam met die broeders na julle te gaan; maar hy was heeltemal onwillig om nou te gaan; hy sal egter gaan wanneer die tyd vir hom geleë is.
13 Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.
14 Laat alles by julle in liefde geskied.
15En ek versoek julle, broeders — julle weet dat die huisgesin van Stéfanas die eersteling van Acháje is en dat hulle hul tot diens van die heiliges gestel het —
16 dat julle ook onderworpe moet wees aan sulke mense en aan elkeen wat saamwerk en arbei.
17En ek verbly my oor die aankoms van Stéfanas en Fortunátus en Acháïcus, omdat hulle my gemis aan julle vergoed het.
18Want hulle het my gees verkwik en julle s'n ook. Erken sulke manne dan.
19Die gemeentes van Asië groet julle. Áquila en Priscílla saam met die gemeente wat in hulle huis is, laat vir julle baie groete weet in die Here.
20Al die broeders groet julle. Groet mekaar met 'n heilige kus.
21 Die groete van Paulus, met my eie hand.
22As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom 'n vervloeking wees! Maranáta!
23 Die genade van die Here Jesus Christus sy met julle!
24My liefde met julle almal in Christus Jesus! Amen.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid