Y'hoshua 20
20
1Toe het יהוה met Y’hoshua gepraat en gesê:
2“Praat met die seuns van Yisra’el en sê: ‘Wys die stede van ontvlugting aan, waarvan Ek deur die diens van Mosheh met julle gepraat het
3sodat hy wat doodslag begaan het, wat enige persoon onopsetlik, sonder voorbedagde rade doodgemaak het, daarheen kan vlug en hulle sal vir julle dien as toevlugsoord vanweë die bloedwreker.
4Hy moet na een van hierdie stede vlug en gaan staan by die ingang van die stadspoort en sy saak voor die ore van die oudstes van daardie stad stel en hulle moet hom by hulle in die stad inneem en aan hom plek gee sodat hy tussen hulle kan bly.
5Nou, as die bloedwreker hom agternajaag, mag hulle hom wat die doodslag begaan het, nie in sy hand uitlewer nie omdat hy sy naaste sonder opset doodgemaak het en hom nie vroeër gehaat het nie.
6Hy moet in daardie stad bly totdat hy voor die vergadering gestaan het vir beoordeling en tot die dood van die een wat hoofpriester is in daardie dae; dan moet hy wat die doodslag begaan het, teruggaan na sy eie stad en sy eie huis, na die stad vanwaar hy gevlug het’.”
7Hulle het Kedesh in die Galil, in die Bergland van Naftali, Sh’khem in die Bergland van Efrayim en Kiryat-Arba, (dit is Hevron), op die Bergland van Y’hudah, afgesonder.
8Oorkant die Yarden, oos van Yerigo, het hulle Betzer in die wildernis, wat op die vlakte is, uit die stam van Re’uven; Ramoth in Gil’ad, uit die stam van Gad en Golan in Bashan uit die stam van M’nasheh, aangestel.
9Hierdie is die aangestelde stede vir al die seuns van Yisra’el en vir die vreemdeling wat onder hulle besoek sodat elkeen wat per ongeluk ’n mens doodgemaak het, daarheen kan vlug en nie hoef te sterf deur die hand van die bloedwreker voordat hy voor die vergadering gestaan het nie.
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.