Y'hoshua 14
14
1Hierdie is wat die seuns van Yisra’el as erfenis in die land Kena’an ontvang het, wat El’azar, die priester, Y’hoshua, die seun van Nun, asook die familiehoofde van die stamme van die seuns van Yisra’el tussen hulle opgedeel het as erfenis.
2Deur die lot is hulle erfenis verdeel, soos יהוה deur Mosheh beveel het, vir die nege en ’n halwe stam,
3want Mosheh het die erfenis van die twee en ’n halwe stam oorkant die Yarden gegee, maar aan die Leviete het hy geen erfenis tussen hulle gegee nie,
4want die seuns van Yosef was twee stamme: M’nasheh en Efrayim en aan die Leviete het hulle geen deel in die land gegee nie, behalwe stede om in te bly, met hulle weiveld vir hulle vee en vir hulle besittings.
5So het die seuns van Yisra’el gedoen, net soos יהוה Mosheh beveel het en hulle het die land verdeel.
6Toe het die seuns van Y’hudah nadergekom na Y’hoshua in Gilgal en Kalev, die seun van Y’funneh, die K’niziet, het vir hom gesê: “Jy ken die woord wat יהוה met Mosheh, die man van God, in Kadesh-Barnea gepraat het met betrekking tot jou en my.
7Ek was veertig jaar oud toe Mosheh, die dienskneg van יהוה, my van Kadesh-Barnea af gestuur het om die land te verken en ek het vir hom woord gebring soos dit in my hart was.
8Nogtans het my broers wat saam met my opgegaan het, die binneste van die volk laat smelt met vrees, maar ek het יהוה, my God, ten volle gevolg.
9Op dié dag het Mosheh gesweer en gesê: ‘Waarlik, die land waarop jou voet getrap het, sal aan jou en aan jou seuns tot in ewigheid as ’n erfenis wees omdat jy יהוה, my God, ten volle gevolg het.’
10Nou, let op, יהוה het my laat lewe, net soos Hy gesê het, hierdie vyf en veertig jaar sedert יהוה hierdie woord met Mosheh gepraat het toe Yisra’el in die wildernis geloop het en nou, let op, ek is vandag vyf en tagtig jaar oud.
11Ek is vandag nog net so sterk soos die dag toe Mosheh my gestuur het; soos my krag toe was, so is my krag nou, om te veg en om uit te gaan en in te kom.
12Nou dan, gee my hierdie bergland waarvan יהוה op daardie dag gepraat het, want jy het dié dag gehoor dat dáár `Anakiete is met groot versterkte stede; miskien sal יהוה met my wees en ek sal hulle uitdryf, soos יהוה gesê het.”
13Y’hoshua het hom geseën en Hevron as erfenis aan Kalev, die seun van Y’funneh, gegee.
14Hevron het daarom die erfenis van Kalev, die seun van Y’funneh, die K’niziet, geword tot vandag toe omdat hy יהוה, die God van Yisra’el, ten volle gevolg het.
15Die naam van Hevron was tevore Kiryat-Arba, want hy was die grootste man onder die `Anakiete. Toe het die land gerus van oorlog.
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.