Yesha'yahu 55
55
1O, elkeen wat dors het, kom na die waters Yog 7:37,38 en wie geen geld het nie, kom, koop en eet. Kom, koop wyn en melk sonder geld en sonder prys. Mat 10:8; 2 Kor 11:7; Open 21:6; 22:17
2Waarom spandeer julle geld vir wat geen brood is nie en julle salaris op wat nie kan versadig nie? Luister versigtig na My en eet wat goed is en verheug jouself in oorvloed.
3Draai julle oor en kom na My toe, luister en doen sodat julle kan lewe en Ek sal ’n ewige verbond met julle sluit, Hand 13:34 volgens die getroue onverdiende gunste aan Dawid bewys.
4Let op, Ek het hom ’n getuie tot die volke gemaak, ’n leier en bevelvoerder vir die volke.
5Let op, jy sal ’n nasie roep wat jy nie ken nie en ’n nasie wat jou nie ken nie, sal na jou toe hardloop, ter wille van יהוה, jou God, die Afgesonderde Een van Yisra’el omdat Hy jou lof en eer gegee het.
6Soek יהוה terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.
7Laat die wettelose sy pad verlaat en die bose sy gedagtes en laat hom terugdraai na יהוה en Hy sal vir hom omgee; na ons God, want Hy sal oorvloedig vryspreek,
8want My gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle manier is nie My manier nie,” verklaar יהוה,
9want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My metodes hoër as julle metodes en My gedagtes as julle gedagtes,
10want soos die reën en die sneeu van die hemel afkom en nie daarheen terugkeer sonder om die aarde nat te maak en dit te laat voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter, nie,
11so sal My woord wees wat uit My mond uitgaan; dit sal nie leeg na My toe terugkom, sonder om te bereik wat Ek begeer en sonder om voorspoedig te wees in dit waarvoor Ek dit stuur, nie,
12want julle sal met vreugde uitgaan en met vrede gelei word; die berge en heuwels sal uitbreek in uitroepe van vreugde voor julle en al die bome van die veld sal hande klap.
13In plaas van ’n doringboom sal ’n sipres opkom en in plaas van ’n netel sal ’n mirteboom opkom en dit sal ’n herdenking wees tot יהוה, as ’n ewige teken wat nie afgesny sal word nie.”
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.