Yegezk'el 29
29
1In die tiende jaar, in die tiende maand, op die twaalfde van die maand, het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:
2“Seun van ’n mens, draai jou gesig teen Farao, koning van Mitzrayim en profeteer teen hom en teen die hele Mitzrayim.
3Praat en sê: ‘So sê יהוה-God: “Let op, Ek is teen jou, Farao, koning van Mitzrayim, die groot monster wat in die middel van sy riviere lê, wat gesê het: ‘My Nyl is myne en ek het dit self gemaak.’
4Ek sal hake in jou kakebene sit en die visse van jou riviere aan jou skubbe laat vasklou en Ek sal jou vanuit jou riviere af uittrek en al die visse van jou riviere sal aan jou skubbe vasklou.
5Ek sal jou alleen los in die wildernis, vir jou en al die visse van jou riviere; julle sal op die oop veld val; jy sal nie bymekaargemaak of versamel word nie; Ek het julle as kos vir die wilde diere van die aarde en vir die voëls van die hemel gegee.
6Dan sal al die inwoners van Mitzrayim weet dat Ek יהוה is omdat hulle ’n rietstok is vir die huis van Yisra’el.
7Toe hulle jou met die hand vasvat, het jy al hulle hande gebreek en geskeur; toe hulle op jou geleun het, het jy al hulle lendene gebreek en laat skud.”
8יהוה-God sê daarom: “Let op, Ek sal ’n swaard oor jou bring en mens en dier van jou af afsny.
9Die land van Mitzrayim sal ’n verlatenheid en puinhoop word. Dan sal hulle weet dat Ek יהוה is. Omdat jy sê: ‘Die Nyl is myne en ek het dit gemaak,’
10let daarom op, Ek is teen jou en teen jou riviere en Ek sal die land van Mitzrayim ’n absolute puinhoop en verlatenheid maak, vanaf Migdol af tot by S’venah en selfs tot by die grens van Kush.
11Geen mens se voet sal daar deurgaan nie en geen dier se poot sal daar deurgaan nie en dit sal vir veertig jaar lank onbewoond wees.
12So sal Ek die land van Mitzrayim ’n verlatenheid maak tussen verlate lande en haar stede, tussen stede wat verwoes is, sal verlate wees vir veertig jaar lank en Ek sal die Mitzrayimiete verstrooi onder die nasies en hulle versprei tussen die lande,”
13want so sê יהוה-God: “Aan die einde van veertig jaar sal Ek die Mitzrayimiete versamel vanuit die volke waarheen hulle verstrooi is.
14Ek sal die lot van die Mitzrayimiete verander en hulle laat teruggaan na die land van Patros, na die land van hulle oorsprong en daar sal hulle ’n eenvoudige koninkryk wees.
15Hulle sal die minste van die koninkryke wees en hulle sal hulself nooit weer bo die nasies oplig nie en Ek sal hulle so klein maak sodat hulle nie oor die nasies sal heers nie.
16Hulle sal nooit weer die vertroue van die huis van Yisra’el wees nie, om die oortredinge, van hulle draai na Mitzrayim, te onthou. Dan sal hulle weet dat Ek, יהוה, God is.”’”
17In die sewe en twintigste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die maand, het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:
18“Seun van ’n mens, N’vukadnetzar, koning van Bavel, het sy leër hard laat werk teen Tzor; elke kop is bles gemaak en elke skouer is deurgeskaaf, maar hy en sy leër het geen loon ontvang van Tzor vir die werk wat hy daarteen gedoen het nie;”
19daarom, so sê יהוה-God: “let op, Ek sal die land van Mitzrayim vir N’vukadnetzar, koning van Bavel, gee en hy sal haar rykdom wegdra en die buit vat en dit plunder, en dit sal die loon vir sy leër wees.
20Ek het vir hom die land van Mitzrayim gegee vir sy werk wat hy gedoen het, want hulle het vir My opgetree,” verklaar יהוה-God.
21Op daardie dag sal Ek vir die huis van Yisra’el ’n horing laat uitspruit en Ek sal jou mond in hulle midde oopmaak. Dan sal hulle weet dat Ek יהוה is.”
Tans Gekies:
Yegezk'el 29: SPC
Kleurmerk
Kopieer
Vergelyk
Deel
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.