Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

Klaagliedere 3

3
1Sien my teistering; ek word getugtig deur die lat van Sy woede.
2Hy het my gelei, maar ek het in duisternis en nie in lig geloop nie.
3Hy het sekerlik teen my gedraai, Hy draai die hele dag Sy hand teen my.
4My vlees en my vel het Hy laat oud word, Hy het my gebeente gebreek.
5Hy het skuins walle teen my gebou, my omsingel met bitterheid en moeite.
6Hy het my soos ’n dooie vir ewig in donker plekke laat bly.
7Hy het my toegemuur sodat ek nie kan ontsnap nie, my ketting swaar gemaak.
8Alhoewel ek smeek en bid, luister Hy nie na my gebed nie.
9Hy het my lewenspad met dorings ingekamp, my paaie krom gemaak.
10Hy was vir my soos ’n wolf wat lê en wag, soos ’n leeu in wegkruipplekke.
11Hy het my paaie krom gemaak en my in stukke gesny, my verlate gemaak.
12Hy het sy boog gespan en my as ’n teiken vir die pyl opgestel.
13Let op, Hy het die pyle in my niere laat ingaan. Iyov 16:13
14Ek is die hele dag lank die bespotting van al die nasies en van hulle spotlied.
15Hy het my met bitterheid gevul, my dronk gemaak met wilde-als.
16Hy het my tande met ’n klip gebreek, my met as bedek.
17My lewe het afgedwaal van vrede af, ek het voorspoedigheid vergeet
18en ek het gesê: “My beroemdheid en my versekerde verwagting van יהוה het vergaan.”
19Onthou my teistering en my tugtiging, die bitterheid en smart.
20Onthou en herstel my lewe tot my.
21Hieraan herinner ek my gedagtes; daarom het ek versekerde verwagting in God.
22Die sagte goedheid van יהוה hou sekerlik nooit op nie en Sy liefdevolle omgee faal nooit nie;
23hulle is nuut, elke oggend; U getrouheid is groot.
24יהוה is my Gedeelte,” sê my lewe; “daarom sal ek in Hom ’n versekerde verwagting hê.” Heb 11:1-2
25יהוה is goed vir hom wat op Hom wag, vir die lewe wat Hom soek.
26Dit is goed vir ’n man om beide die waarheid en die verlossing van יהוה te verwag.
27Dit is goed vir ’n man as hy U juk in sy jeug dra. Mat 11:29, 30
28Laat hom alleen sit en stilbly, want hy het U juk op hom geplaas.
29Laat hy homself nederig maak, want daar is ’n versekerde verwagting!
30Laat hy sy wang draai vir die een wat hom slaan, Luk 6:29 laat hom gevul wees met skaamte,
31want יהוה sal nie vir ewig vergeet nie,
32maar alhoewel Hy leed veroorsaak, tog sal Hy liefdevolle omgee hê volgens die menigte van Sy goedheid,
33want Hy onderdruk nie gewilliglik nie, maar Hy maak die seuns van die mens nederig.
34Om al die gevangenes van die aarde onder sy voete te onderdruk,
35om die reg van ’n man weg te draai voor die gesig van die Allerhoogste
36en om ’n mens onregverdig te behandel in sy regsaak, keur יהוה nie goed nie.
37Wie is hy wat praat en dit gebeur, as יהוה dit nie beveel het nie?
38Uit die mond van die Allerhoogste kom nie boosheid en goedheid nie;
39daarom, hoekom sal enige lewende mens die straf vir sy sonde bevraagteken?
40Laat ons ons lewenswyse ondersoek en toets en weer terugdraai na יהוה;
41laat ons ons verstand, wil en emosie saam met ons hande oplig tot God in die hemel.
42Ons het oortree en gerebelleer en U het nie vrygespreek nie.
43U het ons met U toorn bedek en ons agtervolg; U het gedood en nie jammer gekry nie.
44U het Uself in U wolk toegevou, U het ons gebed laat verbygaan.
45U het ons ontwortel en veragtend onder die volke gemaak.
46Die trane hardloop uit my oë en hou nie op nie, want daar is geen vertrooster nie
47totdat יהוה vanuit die hemel afkyk en dit raaksien.
48My oë is leeggeloop aan trane oor die vernietiging van al die dogters van die stede van my volk.
49Al ons vyande praat boos teen ons,
50vrees en bewing kom oor ons, ’n strik en vernietiging.
51Ek huil ernstig oor die vernietiging van die dogters van my stad.
52My vyande het my sonder oorsaak gejag soos ’n voël;
53hulle het my lewe in ’n put afgesny; hulle het klippe na my gegooi.
54Water het oor my kop gestroom, toe het ek gesê: “Ek is ver weggegooi!”
55Ek roep U Naam (Karakter en Outoriteit) aan, יהוה, uit die diepte van die put.
56U het my stem gehoor; draai nie U oor van my uitroep af weg nie, maar verlos my en red my. Yir 38:6-13
57U het nader gekom op die dag dat ek na U uitgeroep het; U het gesê: “Moenie bang wees nie!”
58O, יהוה, U het my saak verdedig, U het my lewe gered.
59O, יהוה, U het my verdrukking gesien, my saak geoordeel.
60U sien al hulle wraak en al hulle planne teen my.
61יהוה, U het hulle spot gehoor en al hulle planne teen my;
62die lippe van my teëstanders en hulle planne, die hele dag lank teen my.
63Let op, ek verstaan hulle gedrag en hulle optrede, as gevolg van hulle planne.
64Gee vir hulle terugbetaling, o יהוה, volgens die werke van hulle hande.
65Gee vir hulle smart van verstand, wil en emosie, laat hulle onderdrukking hul agtervolg.
66In U woede, vernietig hulle van onder U hemel uit, יהוה.

Kleurmerk

Kopieer

Vergelyk

Deel

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan