Hebreërs 6
6
1As gevolg hiervan, laat ons nie by die aanvanklike boodskappe aangaande Die Gesalfde Een bly nie, maar na die volmaaktheid aangaan. Of lê julle weer ’n ander fondasie vir die wegdraai van dooie werke en vir vertroue in God,
2vir die leer aangaande dope, die handoplegging, die opstanding van dié wat dood is en van die ewige oordeel?
3Dit sal ons doen as יהוה dit toelaat,
4maar dit is onmoontlik vir dié wat eenmaal in die doop afgegaan het, die hemelse geskenk gesmaak het, die Gees wat Afgesonderd is ontvang het, Mat 12:31-32; 2 Kefa 2:21
5die goeie boodskap van God en die krag van die toekomstige wêreld gesmaak het,
6om weer te sondig en van voor af in erkenning en aflegging van skuld vernuwe te word en die Seun van God van voor af te kruisig en veragtelik te maak, Deut 29:18-20
7want die grond drink die reën wat gereeld daarop val in en laat die weiding groei, bruikbaar vir hulle vir wie dit bewerk word. Dit ontvang ’n seën van God,
8maar as dit dorings en distels voortbring, word dit verwerp, is dit naby vervloeking en sy einde is om verbrand te word.
9Ons is egter aangaande julle, vir wie ons lief is, van uitstekende dinge oortuig; dinge wat met die lewe saamgaan, al praat ons só,
10want God is nie boos dat Hy julle dade en die liefde wat julle in Sy Karakter en Outoriteit gewys het deurdat julle die afgesonderdes bedien het en nog bedien, sal ignoreer nie.
11Ons begeer van elkeen van julle dit: ywer vir die volmaaktheid van julle versekerde verwagting, tot die einde toe
12en dat julle nie sal verflou nie, maar dat julle navolgers sal wees van hulle wat deur vertroue en langdurige geduld erfgename van die belofte geword het,
13want toe God aan Avraham die belofte gegee het, het Hy, aangesien Hy by geen meerdere ’n eed kon sweer nie, by Homself ’n eed gesweer Gen 22:16
14en gesê: “Ek sal jou dubbel seën en jou met ’n dubbel maat vermeerder.” Gen 22:17
15So was hy geduldig en het hy die belofte ontvang,
16maar mense sweer ’n eed by een wat groter as hulle is en die bevestiging deur ’n eed is vir hulle die einde van alle verskille;
17daarom het God omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van Sy wil wou wys, dit met ’n eed bevestig
18sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, groot vertroosting kan hê - ons wat in Hom skuiling gesoek het - en sodat ons die versekerde verwagting en die belofte mag vasgryp:
19dit, wat vir ons soos ’n anker is, wat ons lewe vashou, dat dit nie beweeg sal word nie en binnekant die skeidingsgordyn ingaan,
20waar Yeshua vroeër ingegaan het namens ons en die ewige nie-Levitiese Priester geword het volgens die voorbeeld van Malki-Tzedek. Ps 110:4
Tans Gekies:
Hebreërs 6: PWL
Kleurmerk
Kopieer
Vergelyk
Deel
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.