Rigters 2:1-10

Rigters 2:1-10 CAB23

En 'n engel van die HERE het van Gilgal na Bogim opgetrek en gesê: Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek aan julle vaders met 'n eed beloof het; en ek het gesê: Ek sal nooit my verbond met jou verbreek nie. En julle mag geen verbond sluit met die inwoners van hierdie land nie; hulle altare moet julle afbreek, maar na my stem het julle nie geluister nie. Waarom het julle dit gedoen? Daarom het ek ook gesê: Ek sal hulle nie voor jou uit verdryf nie; maar hulle sal wees soos dorings in julle sye, en hulle gode sal vir julle 'n strik wees. En toe die engel van die HERE hierdie woorde aan al die kinders van Israel spreek, het die volk hul stem verhef en geween. En hulle het daardie plek Bogim genoem en daar aan die HERE geoffer. En toe Josua die volk laat trek het, het die kinders van Israel elkeen na sy erfdeel gegaan om die land in besit te neem. En die volk het die HERE gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat nog oor Josua geleef het, wat al die groot werke van die HERE gesien het wat Hy vir Israel gedoen het. En Josua, die seun van Nun, die dienaar van die HERE, het gesterwe toe hy honderd en tien jaar oud was. En hulle het hom begrawe op die grens van sy erfdeel in TimnatHEREs, op die gebergte van Efraim, aan die noordekant van die heuwel Gaäs. En ook daardie hele geslag is by hulle vaders versamel, en daar het 'n ander geslag ná hulle opgestaan wat die HERE nie geken het nie en ook nie die werke wat Hy vir Israel gedoen het nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid