Rut 2:13-23

Rut 2:13-23 AFR20

“U is goed vir my, Meneer,” antwoord sy, “u het my immers jammer gekry; ja, u het mooi gepraat met my, u diensmeisie, en dit terwyl ek nie eers een van u slavinne is nie!” Teen etenstyd sê Boas vir haar: “Kom hier, kom eet van die brood. Doop jou stukkie in die asyn.” Sy het langs die snyers gaan sit en hy het vir haar gebraaide koring aangebied. Sy het geëet totdat sy versadig was en selfs nog daarvan oorgehou. Toe sy opstaan om weer te gaan are optel, het Boas sy werkers opdrag gegee en gesê: “Sy mag ook tussen die hopies optel. Julle mag haar nie verneder nie! Julle moet selfs vir haar are uit die bondels uittrek en dit laat lê sodat sy dit kan optel. Julle mag nie met haar raas nie!” Rut het tot die aand are opgetel in die land. Sy het uitgeslaan wat sy opgetel het: Dit was ongeveer 'n efa gars. Sy het dit gedra, en toe sy in die dorp kom, sien haar skoonmoeder wat sy opgetel het. Daarop haal Rut ook van die kos uit wat sy oorgehou het nadat sy genoeg geëet het en gee dit vir haar skoonmoeder. Haar skoonmoeder vra haar toe: “Waar het jy vandag are opgetel en by wie het jy gewerk? Mag die een wat jou bevoordeel het, geseënd wees! ” Sy vertel toe vir haar skoonmoeder by wie sy gewerk het: “Die man by wie ek vandag gewerk het, se naam is Boas.” Naomi het vir haar skoondogter gesê: “Mag hy geseën word deur die HERE, wat nie nagelaat het om sy verbondstrou aan die lewendes en die dooies te bewys nie.” Naomi het ook vir haar gesê: “Die man is verwant aan ons: Hy is een van ons lossers. ” Rut, die Moabiet, sê toe: “Hy het ook vir my gesê, ‘Jy moet by my werkers bly totdat hulle met my hele oes klaar is.’ ” Daarop sê Naomi vir Rut, haar skoondogter: “My dogter, dis goed dat jy saam met sy vrouewerkers uitgaan, sodat mans jou nie op 'n ander land lastig val nie.” Rut het Boas se vrouewerkers gevolg en are opgetel totdat die garsoes en die koringoes verby was. Sy het in dié tyd by haar skoonmoeder gebly.