Psalms 135

135
1 Halleluja!
Loof die Naam van die Here!
Loof Hom, diensknegte
van die Here,
2wat diens verrig
in die huis van die Here,
in die voorhowe van die huis
van ons God.
3Loof die Here,
want die Here is goed;
besing sy Naam, want dit is lieflik;
4want die Here het Jakob
vir Hom uitgekies,
Israel as sy persoonlike eiendom.
5Ja, ek, ek weet
dat die Here groot is,
dat ons Heer groter is
as al die gode.
6Alles wat die Here behaag,
doen Hy in die hemel
en op die aarde,
in die oseane en alle dieptes.
7Hy laat stapelwolke opstyg
aan die einde van die aarde;
Hy maak weerligstrale vir die reën;
Hy laat die wind
uit sy voorraadkamers vry;
8Hy wat die •eersgeborenes van Egipte,
van mense en diere, getref het.
9Hy het tekens en wonders
in jou midde verrig, Egipte,
teen die farao en al sy amptenare,
10Hy wat baie nasies getref
en magtige konings
om die lewe gebring het:
11Sihon, die koning
van die Amoriete,
Og, die koning van Basan
en al die konings van Kanaän.
12En Hy het hulle land as erfdeel gegee,
as 'n erfdeel aan Israel, sy volk.
13 Here, u Naam is vir ewig;
Here, u gevierde Naam duur
van geslag tot geslag.
14Want die Here laat reg geskied
aan sy volk;
oor sy diensknegte ontferm Hy Hom.
15 Die afgode van die nasies
is silwer en goud,
die werk van mensehande.
16Hulle het monde,
maar kan nie praat nie,
oë, maar kan nie sien nie.
17Hulle het ore,
maar kan nie hoor nie;
daar is ook glad nie asem
in hulle monde nie.
18Hulle makers
sal net soos hulle word –
elkeen wat op hulle vertrou.
19Huis van Israel, prys die Here!
Huis van Aäron, prys die Here!
20Huis van Levi, prys die Here!
Wie vir die Here ontsag het,
prys die Here!
21Die Here moet geprys word uit Sion,
Hy wat in Jerusalem woon.
Halleluja!

Tans Gekies:

Psalms 135: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid