Markus 5:1-12

Markus 5:1-12 AFR20

Hulle het aan die oorkant van die see aangekom, in die gebied van die Geraseners. Net toe Hy uit die boot klim, het 'n man met 'n •onrein gees Hom skielik uit die rotsgrafte tegemoet gegaan. Hierdie man se blyplek was tussen die rotsgrafte. Niemand kon hom meer vasbind nie, selfs nie met 'n ketting nie. Hy was trouens al dikwels met voetboeie en kettings vasgebind, maar hy het die kettings losgeruk en die voetboeie stukkend gebreek. Niemand kon hom beheer nie. Heeltyd, bedags en snags, het hy tussen die rotsgrafte en op die berge homself al skreeuende met klippe geslaan. Toe hy Jesus van ver af sien, het hy gehardloop en voor Hom neergeval. Hy skreeu toe met 'n harde stem: “Los my uit, Jesus, •Seun van die Allerhoogste God! Ek besweer U by God, moet my nie pynig nie!” Want Hy het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!” Hy vra hom toe: “Wat is jou naam?” Hy antwoord Hom: “My naam is Legioen, want ons is baie!” Hy het Jesus ernstig gesmeek om hulle nie uit die gebied uit weg te stuur nie. Daar het 'n groot trop varke teen die berghang gewei. Hulle het Hom gesmeek en gesê: “Stuur ons na die varke, dat ons in hulle kan invaar.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid