Matteus 24:1-14
Matteus 24:1-14 AFR20
Jesus het uitgegaan en was besig om van die tempelterrein weg te beweeg. Sy dissipels het nader gekom om sy aandag op die tempelgeboue te vestig. Maar Hy sê vir hulle: “Sien julle al hierdie geboue? •Amen, Ek sê vir julle: Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word.” Terwyl Jesus op die Olyfberg gesit het, het die dissipels na Hom gekom en Hom eenkant gevra. “Sê vir ons,” het hulle gevra, “wanneer sal hierdie dinge plaasvind, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die tyd? ” Jesus het hulle geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. Want baie mense sal in my Naam na vore tree en sê, ‘Ek is die Christus!’ en hulle sal baie mense mislei. Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pasop, moenie verskrik raak nie. Want hierdie dinge moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. Een nasie sal immers teen 'n ander nasie optrek en een koninkryk teen 'n ander koninkryk, en daar sal hongersnood wees en aardbewings op een plek ná die ander. Al hierdie dinge is die begin van die geboortepyne. Dan sal hulle julle oorlewer om verdruk te word en julle doodmaak, en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. Dan sal baie tot 'n val kom, mekaar oorlewer en mekaar haat. Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies. En dan sal die einde kom.”


