Matteus 13:24-30, 36-43

Matteus 13:24-30 AFR20

Hy het 'n verdere gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad op sy saailand gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom, drabok tussen die koring gesaai en weggegaan. Toe die spruitjies opskiet en in die aar kom, het die drabok ook begin wys. Die eienaar se slawe het vir hom kom sê, ‘Meneer, het u dan nie goeie saad op u saailand gesaai nie? Waar kom die drabok vandaan?’ Hy het hulle geantwoord, ‘'n Vyand het dit gedoen.’ Die slawe sê toe vir hom, ‘Wil u dat ons dit bymekaar gaan maak?’ Maar hy sê, ‘Nee, anders kan julle dalk, terwyl julle die drabok bymekaarmaak, die koring saam uittrek. Laat albei saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die drabok bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar maak die koring in my skuur bymekaar. ’ ”

Matteus 13:36-43 AFR20

Toe het Jesus die skare weggestuur en die huis binnegegaan. Sy dissipels het na Hom gekom en gesê: “Verklaar vir ons die gelykenis van die drabok in die saailand.” Hy het geantwoord: “Die een wat die goeie saad saai, is die •Seun van die Mens; die saailand is die wêreld; die goeie saad is die kinders van die •koninkryk; die drabok is die kinders van die Bose; die vyand wat dit gesaai het, is die Duiwel; die oes is die voleinding van die tyd; en dié wat oes, is engele. Net soos die drabok dan bymekaargemaak en in die vuur verbrand word, so sal dit wees by die voleinding van die tyd. Die Seun van die Mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk al die struikelblokke en dié wat wetteloosheid bedryf, bymekaarmaak en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. Dan sal die •regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Laat dié wat ore het, luister! ”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid