Klaagliedere van Jeremia 5

5
Vyfde treurlied: Gebed om mededoë
1 Onthou, Here, wat met ons gebeur het;
kyk tog, en sien ons vernedering raak!
2 Ons erfenis is oorhandig aan vreemdes,
ons huise aan buitelanders.
3 Weeskinders het ons geword –
ons is sonder 'n vader;
ons moeders is soos weduwees.
4 Ons betaal vir ons drinkwater;
ons hout kom teen 'n prys.
5 Ons agtervolgers blaas in ons nekke;
ons is uitgeput, ons word nie rus gegun nie.
6 Ons moes 'n verdrag sluit met Egipte,
ook met Assirië,
om met brood versadig te word.
7 Ons voorouers het gesondig;
hulle is nie meer daar nie,
maar ons dra hulle skuld.
8 Slawe heers oor ons;
niemand red ons uit hulle hand nie.
9 In lewensgevaar verkry ons ons brood,
weens die swaard in die woestyn.
10 Ons vel gloei soos 'n oond;
ons brand van honger.
11 Vroue is in Sion verkrag,
jong meisies in die stede van Juda.
12 Vorste is aan hulle hande opgehang;
oudstes is met minagting behandel.
13 Jong manne moet met meulstene werk;
jong seuns steier onder hout.
14 Oudstes het uit die stadspoort verdwyn,
ook die jong manne se snarespel.
15 Vreugde het verdwyn uit ons hart;
ons dans het in roubeklag verander.
16 Die kroon het van ons kop geval.
Wee ons, want ons het gesondig.
17 Hieroor het ons hart gebreek,
hieroor het ons oë dof geword:
18oor die berg Sion verlate is,
oor jakkalse daar ronddwaal.
19 U, Here, U heers vir ewig.
U troon is van geslag tot geslag.
20 Waarom vergeet U ons vir altyd,
waarom verlaat U ons vir goed?
21 Bring ons terug na U toe, Here,
sodat ons kan terugkeer;
maak ons dae nuut soos voorheen,
22 tensy U ons heeltemal verwerp het,
tensy U uitermate woedend vir ons is.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid