Josua 1:10-18
Josua 1:10-18 AFR20
Josua het toe die opsieners van die volk opdrag gegee: “Gaan deur die kamp en gee opdrag aan die volk, ‘Maak vir julle padkos gereed, want oor drie dae gaan julle hierdie Jordaan oorsteek om die land binne te gaan, om in besit te neem wat die HERE julle God aan julle gaan gee om in besit te neem.’ ” Vir die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het Josua gesê: “Onthou die saak waaroor Moses, die dienskneg van die HERE, julle opdrag gegee het, ‘Die HERE julle God gaan vir julle rus gee en hierdie land aan julle gee. Julle vroue, die swakkes onder julle en julle vee kan bly in die gebied oorkant die Jordaan wat Moses aan julle gegee het. Maar julle moet in slagorde voor julle broers oortrek, al die dapper krygers, en hulle bystaan totdat die HERE vir julle broers rus gegee het soos vir julle, en hulle ook die land wat die HERE julle God vir hulle gee, in besit geneem het. Dan mag julle terugkeer na die land wat julle eiendom is en dit in besit neem – die land wat Moses, die dienskneg van die HERE, vir julle gegee het oorkant die Jordaan, aan die oostekant.’ ” Hulle het Josua geantwoord: “Alles wat u ons beveel, sal ons doen, en oral waarheen u ons stuur, sal ons gaan. Net soos ons aan Moses gehoorsaam was, so sal ons aan u gehoorsaam wees. Mag die HERE u God ook by u wees, net soos Hy by Moses was. Elkeen wat teen u bevel in opstand kom en nie u woorde gehoorsaam nie, wat u hom ook al beveel, moet sterf. Wees net dapper en sterk.”


