Jeremia 49

49
Profesie oor die Ammoniete
1Oor die Ammoniete.
So sê die Here:
“Het Israel geen kinders nie?
Of het hy geen erfgenaam nie?
Waarom het Milkom dan Gilead
in besit geneem,
en woon sy volk in die dorpe?
2Daarom, kyk, daar kom dae,”
is die uitspraak van die Here,
“wanneer Ek teen Rabba van die Ammoniete
krygsgeskreeu sal laat opklink,
en dit sal 'n verwoeste puinhoop word.
Sy omliggende dorpies sal afgebrand word,
en Israel sal dié wat hom
sy besit ontneem het, in besit neem,”
sê die Here.
3“Huil, Gesbon,
want Ai is verwoes!
Roep om hulp, dogters van Rabba!
Trek rouklere aan!
Rou en swerf rond tussen die klipmure,
want Milkom gaan in ballingskap,
en sy priesters en bevelvoerders
saam met hom.
4 Waarom roem jy op jou valleie,
op die oorvloed water in jou vallei,
afvallige dogter?
Sy is die een wat op haar skatte vertrou en sê,
‘Wie sal tot by my kom?’
5Kyk, Ek gaan vrees oor jou bring,
vir almal rondom jou,”
is die uitspraak van my Heer,
die Here, Heerser oor alle magte.
“Julle sal verdryf word, elkeen reguit vorentoe,
en niemand sal die vlugtelinge byeenbring nie.
6 “Maar daarna sal Ek die lot van die Ammoniete verander,” is die uitspraak van die Here.
Profesieë oor Edom
7Oor Edom.
So sê die Here, Heerser oor alle magte:
“Is daar nie meer wysheid in Teman nie?
Is raad verlore onder verstandiges?
Het hulle wysheid verrot?
8Vlug, draai om, kruip diep weg,
inwoners van Dedan!
Want Esau se teenspoed bring Ek oor hom
in die tyd wanneer Ek van hom
rekenskap eis.
9 As druiweplukkers na jou toe kom,
sal hulle nie 'n naoes laat oorbly nie?
As dit diewe in die nag is,
verniel hulle net tot hulle genoeg het.
10Maar Ek, Ek het Esau kaalgestroop,
Ek het sy skuilplekke blootgelê;
as hy wil wegkruip, kan hy nie.
Sy nageslag is uitgedelg,
ook sy volksgenote en sy bure;
hy is nie meer daar nie.
11 Laat jou vaderloses maar agter,
Ék sal hulle aan die lewe hou;
en jou weduwees –
op My kan hulle vertrou!”
12 Ja, so sê die Here: “Kyk, hulle wat nie veroordeel is om die beker te drink nie, moet dit wel drink. En jy, is jy die een wat ongestraf bly? Jy sal nie ongestraf bly nie, maar jy sal beslis drink. 13Want by Myself lê Ek 'n eed af,” is die uitspraak van die Here, “dat Bosra 'n skrikbeeld, 'n bespotting, 'n puinhoop en 'n vervloeking sal word, en al sy dorpe ewige puinhope sal wees.”
14 Ek het 'n boodskap gehoor
wat van die Here af kom.
'n Boodskapper is onder die nasies ingestuur:
“Kom byeen! Trek teen haar op!
Maak gereed vir die geveg!”
15“Ja, kyk, gering maak Ek jou
onder die nasies;
verag deur die mense.
16Die vrees wat jy inboesem,
die verwaandheid van jou hart,
het jou mislei,
jy wat tuis is in die rotsskeure,
wat die heuweltoppe beset.
Al maak jy jou nes so hoog
soos dié van 'n arend,
van daar af sal Ek jou afbring, ”
is die uitspraak van die Here.
17“ Edom sal 'n woesteny word;
elkeen wat by hom verbygaan
sal verslae wees en fluit oor al sy wonde.
18 Soos ná die verwoesting
van Sodom en Gomorra
en hulle buurdorpe, ”
sê die Here,
“sal niemand daar woon nie,
sal geen mens daar oorbly nie.
19 “Kyk, soos wanneer 'n leeu
opkom uit die trots van die Jordaan
na 'n weiplek aan
'n standhoudende stroom,
ja, so sal Ek hulle vinnig
daarvandaan laat weghardloop;
en wie daartoe verkies is,
sal Ek daar aanstel.
Want wie is soos Ek?
Wie kan My voor die gereg daag?
Wie is hierdie herder wat voor My
sal standhou?”
20Daarom, luister na
die raadsbesluit van die Here
wat Hy teen Edom geneem het,
en na sy planne wat Hy
teen die inwoners van Teman beraam het:
Hulle sal hulle beslis wegsleep,
selfs die kleinstes van die kudde.
Oor hulle sal Hy beslis
hulle weiding laat verwoes.
21 Van die geluid van hulle val
sal die aarde bewe.
Die hulpgeroep –
tot by die Rietsee sal die geluid
daarvan gehoor word.
22 Kyk, soos 'n arend
styg hy op en vlieg;
hy sprei sy vlerke uit oor Bosra.
Die helde van Edom se harte
is op daardie dag soos die hart
van 'n vrou in barensnood.
Profesie oor Damaskus
23Oor Damaskus.
“Hamat en Arpad staan beskaamd,
want hulle het slegte nuus gehoor.
Van kommer wieg hulle
heen en weer asof op die see
wat nie tot rus kan kom nie.
24 Damaskus se moed begewe haar;
sy draai om om te vlug,
paniek het haar in sy greep;
benoudheid en geboortepyne
het haar beetgepak
soos vir 'n vrou wat geboorte gee.
25Hoe is dit dan dat die beroemde
stad nie verlate is nie,
my vreugdevolle vesting?
26 Daarom sal haar jong manne val
op haar stadspleine,
en al haar krygsmanne sal omkom
op daardie dag,”
is die uitspraak van die Here,
Heerser oor alle magte.
27“Ek sal 'n vuur aansteek
in die stadsmuur van Damaskus;
dit sal die vestings van Ben-Hadad verteer.”
Profesie oor die Arabiere
28 Oor Kedar en oor die koninkryke van Gasor, wat deur Nebukadresar, die koning van Babilonië, verslaan is.
So sê die Here:
“Maak julle gereed!
Trek op teen Kedar
en vernietig die mense uit die ooste!
29Die vyand vat hulle tente en kleinvee weg;
hulle tentdoeke, al hulle goed
en hulle kamele vat hulle vir hulleself.
Hulle sal oor hulle uitroep,
‘Verskrikking aan alle kante!’
30“Vlug, bly aan die swerf!
Kruip diep weg, inwoners van Gasor!”
is die uitspraak van die Here.
“Want Nebukadresar, die koning van Babilonië,
het 'n besluit teen julle geneem,
en 'n plan teen julle beraam.
31“Maak julle gereed!
Trek op teen 'n sorgelose nasie wat veilig woon,
wat nie poortdeure of sluitbalke het nie,
wat alleen woon,”
is die uitspraak van die Here.
32“Hulle kamele sal oorlogsbuit word,
en hulle menigte vee geroofde goed.
Ek sal hulle in alle windrigtings verstrooi,
hulle wat die slape skoonskeer.
Van alle kante sal Ek vir hulle teenspoed bring,”
is die uitspraak van die Here.
33“ Gasor sal 'n lêplek vir jakkalse word,
'n woesteny vir altyd.
Niemand sal daar woon nie,
geen mens sal daar oorbly nie.”
Profesie oor Elam
34 Die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het oor Elam, aan die begin van die regering van Sedekia, koning van Juda:
35“So sê die Here,
Heerser oor alle magte,
‘Kyk, Ek gaan die boog van Elam breek,
die kern van hulle mag.
36 Ek sal teen Elam vier winde bring
van die vier eindes van die hemel;
en hulle in al hierdie windrigtings verstrooi.
Daar sal nie 'n nasie wees by wie
dié wat uit Elam verdryf is, nie kom nie.
37Ek sal Elam verpletter
voor hulle vyande,
voor dié wat hulle lewens soek;
Ek sal onheil oor hulle bring –
my brandende toorn’ ”
is die uitspraak van die Here.
“ ‘Ek sal die swaard agter hulle aanstuur,
totdat Ek hulle vernietig het.
38 Ek sal my troon in Elam neersit.
Van daar sal Ek koning
en bevelvoerders ombring,’ ”
is die uitspraak van die Here.
39“ ‘Maar aan die einde van die dae
sal Ek die lot van Elam verander,’ ”
is die uitspraak van die Here.

Tans Gekies:

Jeremia 49: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid